Sonde laat sy spoor - 3 April 2014
Hennie Symington
Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. Romeine 5:15b
Ek sal hul oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie. Jeremia 31:34b
Wanneer iemand na aan jou jou regtig ʼn vuil streep getrek het, gaan jy dit nie maklik vergeet nie, al is julle weer vriende. Beteken dit dan dat jy nie regtig vergewe het nie? En beteken dit dan ook wanneer God die boeke oopslaan op die oordeelsdag soos beskryf in Openbaring 20:12, ons sonde daarin opgeteken staan en sal God dit teen ons hou?
Miskien moet ʼn mens dit so probeer verduidelik. God het nie sy “hardeskyf” of “geheuebank” uitgevee nie, maar Hy kies om nie te onthou nie. In Jeremia 31:34 lees ons dat God ons sondes vergewe het en dat Hy nie meer daaraan dink nie. Om “nie daaraan te dink nie” is anders as om te vergeet. Dit beteken dat ʼn mens nie moeite doen om iets te herroep nie. Dit is wat God doen met ons sondes.
En so is dit met jou en my. Ons sal altyd pynlike herinnerings aan ons sonde saam met ons dra want die effek van sonde kring ver uit. Selfs jare na sekere oortredings plaasgevind het, oorweldig die enormiteit daarvan ons steeds. Ons het egter die keuse om nie toe te laat dat ons verkeerde dade van die verlede ons toekoms bederf nie. Deur God se genade hoef ons dit nie te vergeet nie; ons moet net besluit om dit nie elke keer in herinnering te roep nie.
Op talle plekke in sy Woord herinner God ons daaraan dat ons oortredings iets van die verlede is. Hy verwyder dit so ver as die ooste van die weste (Psalm 103:12). Ons mag nie weer daarnatoe teruggaan nie. God plaas ook geen beperking op vergifnis nie. Dit geld vir altyd. Die wonder van God se vergifnis is dat ons telkens van nuut af kan begin – natuurlik nie om weer sonde te doen nie – maar ons sondes te bely en vergifnis te aanvaar.
Gebed:Here ons kan nie verdra dat ons vir ewig met ons sonde moet saamleef nie. Dankie dat U vergewe en kies om nie te onthou nie. Help ons om ook so te vergewe. Amen