Vers n dag - 20 Julie
TEMA VIR HUIDIGE REEKS: STEL JY GOD EERSTE?
DAG 13: STEL JY GOD EERSTE ... OF OORDEEL JY SELF?
Deur: Benescke Janse van Rensburg
Ek luister verlede Vrydagoggend na ’n gesprek op een van die plaaslike radiostasies. Dit het gehandel oor ’n pa en seun wat ’n lang pad gestap het om hul verhouding te herbou nadat die seun aan sy ouers erken het dat hy gay is.
’n Klomp luisteraars het ingebel. Daar was diegene wat Bybelverse aangehaal het. Dié wat hulle veroordeel het. En dan was daar dié met meegevoel.
Die pa se woorde op een stadium deur die gesprek het my getref: “Dit was altyd maklik om ’n oordeel oor gay-wees te fel en vir ander te vertel dat dit verkeerd is. Die dag toe my seun die nuus van sy gay-wees gebreek het, het dit nie net my fondamente geruk nie. Dit het my geforseer om met nuwe oë en groter deurnis na ander rondom my te kyk ...â€
Of gay-wees reg is en/of dit verkeerd is, is nie vir my om te oordeel nie, maar vir God. Natuurlik moet ’n mens nie louwarm word en geen standpunt teen sonde inneem nie, maar wie gee aan enigeen van ons die reg om vinger te wys of ’n ander mens te veroordeel?
Dink ’n oomblik aan Jesus se optrede toe die skrifgeleerdes hom gevra het om ’n oordeel oor die vrou te fel wat van ’n buite-egtelike verhouding aangekla was. In Johannes 8:7 lees ons sy woorde: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.â€
In Mattheus 7:1-5 lees ons duidelik Jesus se woorde: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word…†En dan in vers 5: "Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? … Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.â€
Wat is die verskil tussen gay-wees, ’n buite-egtelike verhouding, ’n witleuen, ’n skindergesprek en/of moord? En wie is ons dat ons soms die reg aan onsself toeëien om ’n oordeel oor iemand anders se lewe te fel? Haat die sonde. Wees lief vir die mens.
Voordat jy dus weer die splinter in ’n ander se oog wil raaksien of uitwys, vra jouself af wat jy sal doen as jou kind môre by jou opdaag met die nuus dat hy gay is of ’n moord gepleeg het. Gaan jy dan steeds dieselfde oordeel fel?
Vader God, baie dankie vir die genade waaronder ons kan lewe. Vergewe my asseblief dat ek soms so maklik oor mense se sake oordeel terwyl ek die balk in my eie oog miskyk. Help my om eerder in liefde en medelye teenoor ander te leef. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na:
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel van wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n epos aan:
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus