Vers n dag - 19 Julie
TEMA VIR HUIDIGE REEKS: STEL JY GOD EERSTE?
DAG 12: STEL JY GOD EERSTE... AS JOU EMOSIES MET JOU WIL WEGHARDLOOP?
Deur: Benescke Janse van Rensburg
Net voor 10:00 op 20 April 2010 was daar ’n ontploffing op die Deepwater Horizon olieboor in die middel van die Golf van Mexiko. Die 126 bemanningslede op die boor het vyf minute gehad om die boor te verlaat voordat dit in vlamme opgegaan het. Elf van die bemanningslede het omgekom. Sowat 36 uur ná die ontploffing het die olieboor (ter waarde van $560 miljoen) begin sink terwyl olie by die boorgat op die bodem van die Golf met volle fors deur die oseaan begin versprei het.
Elke poging om die lekkende olie te stop het misluk en binne weke is hierdie ramp as een van Amerika se grootste nog bestempel. Ook omgewingsbewaarders se kommer het al groter geword. Bedreigde dierspesies in die Golf het begin sterf. Broeiende seeskilpaaie se habitat is beskadig. Walvisse en dolfyne het begin honger ly omdat vis in die Golf deur olie geaffekteer is. En die voëls wat se vere met olie bedek is, het die kans gestaan om te sukkel om hulle liggaamshitte effektief te reguleer nadat die olie van hulle vere verwyder is.
Na meer as 12 weke se gesukkel, het die span van wetenskaplikes en ingenieurs eindelik verlede Donderdag aangekondig dat ’n prop op die olielek geplaas is wat dit gestop het. ’n Span van 40,000 werkers kon nou met die rehabilitasieproses begin – wat verdere langtermynskade aan die natuur kon beperk.
Soms tref onbeplande krisisse of uitdagings (net soos die ontploffing op die olieboor) ook ons lewens. Wat is jou reaksie in sulke gevalle? Verloor jy jou humeur? Kry jy stilstuipe terwyl jy jou huweliksmaat ignoreer? Skree jy op jou kinders of kollegas? Of kies jy om jou prop bo-oor jou negatiewe emosies te plaas deur telkens tot 10 (of 100 as dit nodig is) te tel voordat jy reageer?
Die Spreukedigter het die gevaar van ’n kort humeur en aggressie geken. Luister weer na die woorde in Spreuke 16:32: “’n Geduldige mens beteken meer as iemand wat goed oorlog kan maak, ’n mens wat nie gou kwaad word nie, beteken meer as iemand wat ’n stad kan oorwin.†Deur nie dadelik ’n prop oor jou negatiewe emosies of gedagtes te plaas nie, sal dit soos die olie in die Golf van Mexiko ook na elke aspek van jou lewe versprei.
Hoe sit mens die prop op? Begin om negatiewe gedagtes en emosies onmiddellik vas te vat en dit met positiewe gedagtes te vervang wat in lyn is met wat God se woord (2 Kor. 10:5b). Kies om op die teenoorgestelde manier op te tree as wat jy voel. Wanneer jy iemand met jou woorde wil seermaak, kies om in ’n sagte stem met woorde gevul met liefde te praat. As jy voel dat jy jou huweliksmaat wil ignoreer, stap eerder na hom/haar en gaan gee hom/haar ’n druk.
Sukkel jy vandag met ’n kort humeur of is jou negatiewe houding of gedagtes besig om ’n groeiende olievoetspoor op jou gemoed te laat? Vra God om jou te help om betyds ’n prop bo-oor jou negatiewe gedagtes en emosies te plaas. Dit is beter om dit vroeër te doen as wat jy later met moeite die langtermynskade moet opklaar!
Vader God, vergewe my asseblief waar ek in die verlede toegelaat het dat my emosies myself en ook die mense rondom my beskadig. Help my asseblief om voortaan vas te hou aan U met die wete dat U my sal versterk om my emosies beter te hanteer. Ek vra hierdie dinge in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Kyk na foto’s van die olieboor
- http://symonsez.files.wordpress.com/2008/10/oil20rig.jpg
- http://en.wikipedia.org/wiki/File:Deepwater_Horizon_offshore_drilling_unit_on_fire_2010.jpg
- http://markosun.files.wordpress.com/2010/06/oil-spill.jpg
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na:
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel van wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n epos aan:
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag dagstukkie te adverteer, kontak gerus