Hy het 'n plan - 3 Maart 2014
Neville Turley
ALLES het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd: 'n tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterwe ... Prediker 3:1-2
God het sy eie tydrooster en ons is deel van hierdie goddelike plan. Dikwels probeer ons egter die Here, met respek gesê, in 'n boks druk. Ons dink dat ons, ten spyte van ons feilbare denke, beter weet as ons Skepper en ons verwag dat Hy moet optree soos ons wil hê Hy moet.
Ons is baie bewus daarvan dat in ons wêreld ongelooflike, skokkende dinge toenemend met onskuldige slagoffers gebeur. Waar is die Here wanneer hierdie tragedies gebeur? Waar is Hy wanneer die dood, terminale siektes en egskeidings gesinne verskeur?
Dit is 'n algemene verskynsel dat wanneer 'n man of vrou byvoorbeeld sy of haar geliefde deur die dood verloor, die een wat agterbly soms irrasioneel kwaad is vir die een wat dood is. Te dikwels blameer mense dan die Here vir hulle verlies en hulle geloof koel af.
Vir mense in sulke omstandighede gee Jesaja 'n bietjie pastorale raad: "Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik. Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes." Jesaja 55:7-9
In Desember 1939 was alles vir Brittanje baie donker. Koning George VI het sy onderdane oor die radio toegespreek en almal gewaarsku dat nog donkerder tye op hulle wag. Hy bemoedig egter sy mense met woorde uit die gedig The gate of the year deur Marie Louise Haskins:
“I said to the man who stood at the Gate of the Year.
Give me a light that I may tread safely into the unknown.”
And he replied:
“Go out into the darkness and put your hand into the Hand of God.
That shall be to you better than light, and safer than a known way.”
Mag die Heilige Gees elkeen van ons in staat stel om maar net ons hand in die Hand van God te plaas.
Gebed: Hemelse Vader, in moeilike tye wanneer dit lyk asof alles verkeerd loop, help ons om te besef dat U in beheer is. Skenk aan ons die vermoë om te besef dat alles ten goede meewerk deur Jesus Christus ons Here. Amen