BREEK UIT EN WEET DAT GOD JOU NIE ALLEEN SAL LAAT NIE - 28 Februarie 2014
TERUGVOER VAN REEKS: Wat was jou ervaring van die BREEK UIT EN LÉÉF-reeks? Deel dit met ons by
Deur Benescke Janse van Rensburg
Voel jy vandag of ’n uitdaging in jou lewe dreig om jou te oorweldig? Ek sluit die huidige reeks af met ’n verkorte weergawe van dr. Isak Burger, president van die AGS-kerk in Suid-Afrika se getuienis uit my boek, God was dáár. Mag dit jou bemoedig om te weet dat Hy ook altyd dáár vir jou is.
Teleurgesteld het Isak op die stoel in die hospitaal se wagkamer neergesak. Die spanning van die weke voor hierdie dag het meteens gedreig om hom te oorweldig – en by alles was hy net te laat om sy oudste dogter te sien voordat sy in die teater ingestoot word.
Dit was ’n wintertyd vir die Burger-familie. Weens onverwagte vertragings nadat hulle ’n eiendom verkoop het, het hulle finansiële druk beleef. Isak se seun het amper sy been tydens ’n ernstige motorfietsongeluk verloor. Sy jongste dogter is met ’n onbekende siekte gediagnoseer en sy is gehospitaliseer. En na ses jaar se huwelik het sy oudste dogter eindelik swanger geword. Ernstige komplikasies het egter veroorsaak dat die ongebore baba op 20 weke van haar swangerskap verwyder moes word. Dit sou hulle eerste kleinkind wees en die operasie was vir die hele familie geweldig traumaties.
Omdat Isak se skoonseun en sy vrou uitstedig was, het hy hom van die lughawe gehaas nadat hy ’n ander funksie bygewoon het om betyds by die hospitaal te wees om sy dogter voor die operasie te ondersteun. Hy was egter net te laat. Al wat hy kon doen was om die teatersuster te vra om vir haar te sê: "Jou pa is hier." Hy het geweet dat bloot sy teenwoordigheid vir sy dogter berusting sou bring.
In die wagkamer het Isak op die stoel gesit en dink aan alles waardeur hulle is. Die verlies van sy eerste kleinkind saam met die ander uitdagings het diep gesny. In daardie oomblik van mismoedigheid het hy skielik ’n duidelike fluistering van die Heilige Gees in sy gees ervaar: “Isak, jou Pa is ook hier.” God was dáár in die wagkamer en Hy wou hê dat Isak dit moes weet sodat hy ook in sy storm berusting kon vind. Dié wete het Isak en sy gesin in ’n oogwink met vrede gevul met die wete dat die Almagtige God, die Skepper van die heelal hulle nie alleen gelaat het nie. Hy was steeds in beheer en in die maande daarna het hulle ook beleef hoe Hy die storm weer stilgemaak het.
Ons as gelowiges is nie gevrywaar van uitdagende situasies wat ons pad mag kruis nie. Tog kan ons te midde van elke storm weet dat God dáár is. In Psalm 34:18-20 lees ons: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedelose.” In Hebreërs 13:5 sê God self: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.’” En in Psalm 23:4 staan geskryf: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.”
Wat is die uitdagings wat jy vandag ervaar? Onthou, God is reg langs ons. Hy sal ons nooit verlaat of in die steek laat nie. En Hy kan enige storm weer stilmaak! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U in elke situasie daar is vir my. Help my om te midde van my uitdagings my oë op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Sien ’n foto van Isak op www.benescke.co.za
- Bekendstelling van God was dáár: Woensdag, 12 Maart, 10:00 by die Woordfees op Stellenbosch. Vir meer inligting: http://online.computicket.com/web/event/benescke_janse_van_rensburg/788027255/0/58050047
- Vir meer inspirerende getuienisse oor God se goedheid: http://www.kalahari.com/Books/God-was-Daar_p_48249154
Nota van skrywer:
Baie dankie vir elke epos wat ek in die afgelope maand ontvang het. Al beantwoord ek nie elkeen persoonlik terug nie, bly dit vir my ’n geweldige voorreg om te sien waar God besig is om wêreldwyd in lesers se lewens te werk.
Mag jy wat steeds op ’n deurbraak wag, aanhou om God daarvoor te vertrou. In Psalm 37:5 lees ons: “Laat jou lewe aan die Here oor, vertrou op Hom. Hy sal sorg.” Ek glo dat God op die regte tyd ook in jou lewe jou deurbraak sal bewerkstellig. Sterkte!
Benescke