BREEK UIT EN MAAK GOD DEEL VAN JOU LEWE - 27 Februarie 2014
HUIDIGE TEMA:TEMA: BREEK UIT EN LÉÉF!(Vir terugvoer of voorstelle van temas in die huidige reeks, e-pos my na
Deur Benescke Janse van Rensburg
’n Vrou erken onlangs aan my in ’n gesprek dat sy weens haar huidige werkdruk sukkel om gereelde stiltetye saam met God te hê. Buiten vir haar loopbaan, is sy getroud en ook ’n ma. Dié skuldgevoel veroorsaak dat wanneer sy wél tyd kry om saam met God te spandeer, sy dit liefs vermy omdat sy reeds so sleg voel. Kan jy met haar identifiseer? Hoe lyk jou roetine rondom stiltetyd?
Omdat die vyand weet watter krag daarin lê as gelowiges tyd saam met God spandeer, probeer hy ons met alle mag so besig maak dat ons nie daarby uitkom nie. Ons trap dan vêrder in die strik om te glo dat tyd saam met God beperk moet word tot ’n uur voor werk of ’n uur voordat ons gaan slaap. Kom ons nie daarby uit nie, voel ons skuldig en begin ons om dit liefs te vermy.
Die waarheid is egter: God is oral en ons kan Hom vra om heeldag deel van ons lewens te wees. Hoe doen ons dit? As ons in die werkplek wysheid, guns of kreatiwiteit benodig, kan ons Hom daarvoor vra. As ons wil bars van geluk en dankbaarheid oor ’n deurbraak, kan ons Hom daarvoor dank. En wanneer dit voel asof ons hartseer of die pyn van ’n verlies ons wil oorweldig, kan ons Hom vra om ons aan te raak, te vertroos en die las ligter te maak.
In Psalm 139:1,2,5 lees ons immers: “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. . . U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. . . Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?” In Hebreërs 4:13 staan geskryf: “Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë.” En selfs Jesus het in Mattheus 28:20 met sy Hemelvaart aan sy dissipels gesê: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Natuurlik is tye wat ons die Bybel bestudeer en stil word voor God om sy stem te hoor uiters belangrik om in ons geloof te groei, maar God kyk na die intensie van ons harte en by Hom is daar genade vir die tye wat ons sukkel om al die balle in die lug te hou.
Kom ons hou op swig voor die skuldgevoel wat die vyand op ons wil plaas terwyl ons begin om God saam te nooi na raadsale waar ons belangrike besluite moet neem; na waar ons staan en huis skoonmaak; waar ons in die berg gaan fietsry; of selfs ’n baba se doek ruil. Hy is oral en begeer ’n lewende verhouding met ons elkeen. Ken Hom in al jou weë en Hy sal die pad vir jou gelykmaak. Nader tot Hom en jy kan verseker weet dat Hy dáár is. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek U in al my besluite kan ken en U kan deel maak van my lewe. Lei my deur u Heilige Gees sodat ek ’n ligdraer vir U kan wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Kyk na ’n interessante artikel oor nege wenke om tyd saam met God te spandeer by www.benescke.co.za
- Vir inspirerende getuienisse oor God se goedheid: http://www.kalahari.com/Books/God-was-Daar_p_48249154