Breek uit en hou aan om Hom te prys - 26 Februarie 2014
HUIDIGE TEMA: TEMA: BREEK UIT EN LÉÉF! (Vir terugvoer of voorstelle van temas in die huidige reeks, e-pos my na
Deur Benescke Janse van Rensburg
Ná gister se dagstukkie het ’n klomp lesers getuig van soortgelyke wonderwerke wat hulle al beleef het. Hier is ’n uittreksel uit ’n leser, André Bruyns se epos wat gister deurgekom het:
André: “Ek het vanoggend in ’n bedrukte bui by die werk aangekom. Ek werk op kommissiebasis en het tot dusvêr (25 Februarie) nog niks verkoop nie, wat beteken geen geld teen die einde van die maand nie. Wat sake vererger is dat my vrou tans by die huis is en Vrydagoggend geboorte skenk aan ons eerste kind – ’n seuntjie! Die stres vreet my op.
Die dagstukkie het gehandel oor God se vermoë om enige berg in ons pad te verwyder en ’n wonderwerk te doen. Ek het besluit om soos die man in die dagstukkie God vir ’n wonderwerk te vra. Nadat ek my hart desperaat voor Hom uitgestort het, het ek begin om Hom te prys met die lied, “Juig al wat leef juig voor die Heer”. Sowat 10 minute later het ek ’n oproep van een van my groot kliënte gekry met ’n groot bestelling wat ek Maandagoggend moet gaan aflaai.
In absolute verwondering het ek God met ’n glimlag gedank. Hy het ingegryp en binne10 minute my hele maand suksesvol gemaak. Aan Hom al die eer!”
André is reg. God kan enige storm binne sekondes stilmaak. Tog, wat is jou reaksie wanneer daardie storm bietjie langer aanhou woed as waarop jy gehoop het?
Habakuk en Job het beide beleef dat God ons nooit sal verlaat of in die steek laat wanneer ons aanhou om Hom te midde van ’n storm te prys nie. Luister maar na Habakuk se woorde in Habakuk 3:17-18: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” Ook Job het te midde van die moeilikste tyd nooit sy rug op God gedraai nie. Juis hierom het hy God nuut ontdek. Luister na sy woorde aan die einde van sy storie in Job 42:5: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien. . .”
Watter wonderwerk of uitkoms benodig jy vandag? Kom ons hou aan om God soos Habakuk en Job aan te hou prys te midde van ons storms. Dít stel ons immers in staat om verby ons uitdagings te kyk en God se grootheid raak te sien. Ook skep dit ’n atmosfeer waarin wonderwerke kan plaasvind. Onthou, jou huidige uitdaging is ’n geleentheid om soos Job God se karakter opnuut te ontdek. Moenie moed opgee nie. Jou deurbraak is verseker op pad! Sterkte.
Vader God, baie dankie vir die krag wat daar in lofprysing en aanbidding lê. Help my asseblief om vandag doelbewus te kies om U te loof en te prys te midde van my storm. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Sien foto van André en sy vrou by www.benescke.co.za
- Vir meer getuienisse: http://www.kalahari.com/Books/God-was-Daar_p_48249154