Hoe moet Christene leef? - 4 Maart 2014
Neville Turley
Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Filippense 2:5
'n Stiltetyd elke dag om die aangesig van die Here in sy Woord te soek en om naby Hom te wees in gebed, is ook die beste tyd om volkome eerlik met jouself te wees.
Tyd glip so vinnig verby. Vandag is jy die oudste wat jy nog ooit was, maar ook die jongste wat jy ooit sal wees. Die realiteit van die lewe is dat ons in die hede moet leef eerder as om in die verlede vasgevang te wees of oor die toekoms te fantaseer. Dit maak nie saak hoe lank ons het om te leef nie, die een ding wat ons wel weet, is dat dit nie vir altyd is nie.
Ons teksvers vir vandag fokus op hoe ons die res van ons lewe moet leef.
Ons is deel van 'n gevalle wêreld, maar die goeie nuus is dat as ons een is met Christus ons deur die Heilige Gees dieselfde gesindheid as ons Here kan ontwikkel. As mens was Hy nederig en gehoorsaam aan die wil van God en het Hom tot aan die einde van sy aardse lewe gedien. Die Bybel nooi ons uit om dieselfde te doen.
Ons moet nederig wees en ons oorgee aan die wil van God. Ons moet Hom verheerlik deur net soos Hy uit te reik na diegene in nood. Ons moet die liefde van God wat in ons is, uitleef.
Dit is nie maklik nie en dit mag iets van ons vra. Christene ly vir hulle geloof; baie Christene word vir hulle geloof gemartel, en so verruil hulle die kruis vir 'n kroon, net soos hulle Verlosser ook gedoen het.
Baie ander (en miskien is jy een van hulle) word gespot omdat hulle glo.
Daar is geen beter tyd as juis hierdie oomblik nie om jou hart vir die Heilige Gees oop te maak. Laat Hom toe om besit van jou te neem en jou na die beeld van Christus te vorm. Hy sal jou die krag gee om 'n Christelike lewe te ly en 'n kroon tot in ewigheid sal jou beloning wees.
Gebed: Almagtige God, U het deur u Seun Jesus Christus aan ons bewys hoe groot u liefde vir ons is. Mag die Heilige Gees ons help om tot in ewigheid in sy lig te wandel en sy liefde uit te leef. Amen