BREEK UIT EN WEET HÝ IS DAAR - 21 Februarie 2014
HUIDIGE TEMA:TEMA: BREEK UIT EN LÉÉF!(Vir terugvoer of voorstelle van temas in die huidige reeks, e-pos my na
Deur Benescke Janse van Rensburg
Ná gister se dagstukkie oor God se finansiële voorsiening vir ’n gesin in nood, het verskeie lesers vir my eposse gestuur waarin hulle vertel het van uitdagings wat hulle beleef ten opsigte van hulle gesondheid, huwelik, in die werkplek, finansies en vele ander uitdagings. Beleef jy dalk ook tans so ’n krisis? Hier is ’n gedeelte wat ek hoop jou met ander oë na jou situasie sal laat kyk.
In die fliek, The Best Exotic Marigold Hotel sê een van die akteurs in ’n stadium: “Everything will be alright in the end. If it is not alright, it is not the end.” Skrywer, Jerry Bridges sluit hierby aan wanneer hy skryf: “Jou slegste dae is nooit so sleg dat dit buite die genade van God val nie. Jou beste dae is nooit so goed dat dit nie God se genade benodig nie.”
God weet presies waarheen Hy met jou lewe op pad is. Geen krisis wat jou pad kruis tref Hom ooit onkant nie. As jy dus vandag met ’n storm sit wat nie wil opklaar nie, kan jy weet dat God steeds besig is om agter die skerms te werk. Ná enige storm breek die son immers altyd weer deur.
Paulus het dit verstaan. In 2 Korintiërs 12:9 vra hy dat God die “doring in sy vlees” moet wegneem. God antwoord: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Hierop reageer Paulus: “Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.”
Wat dreig om jou vandag te oorweldig? Onthou, dít val nie buite die genade van God nie. Kom ons draai in ons swakheid na Hom. Wanneer ons ons Skepper van aangesig tot aangesig ontmoet, raak ons opnuut bewus van sy grootheid en krag waarmee Hy alles ten goede kan laat meewerk. Want onthou, as dinge nog nie reg is nie, is dit nie die einde nie. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U in staat is om alles ten goede te laat meewerk vir diegene wat U liefhet. Doen dit asseblief ook in my lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.