Dag 16: BREEK UIT EN LAAT DIE OORDEEL AAN GOD OOR - 24 Februrie 2014
HUIDIGE TEMA:TEMA: BREEK UIT EN LÉÉF!(Vir terugvoer of voorstelle van temas in die huidige reeks, e-pos my na
Deur Benescke Janse van Rensburg
As jy vandag jou vreugde en vrede op ’n 10-punt skaal moet meet, waar sal dit lê?
Die vyand teiken ons vreugde en vrede omdat hy weet dat ons daarsonder rusteloos en kragteloos word. In Nehemia 8:11 lees ons immers: “... die blydskap in die HERE — dit is julle beskutting” (1953-hersiening). Sonder vreugde beweeg ons uit onder die beskutting van Christus terwyl ons kragteloos word. En in Psalm 34:15 staan geskryf: “Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!” Sonder vrede sukkel ons om goeie besluite te neem of selfs om God se stem in ons lewens te hoor omdat dit konstant voel asof iets ons jaag.
Hoe steel die vyand ons vreugde en vrede? Dink byvoorbeeld aan hoe jy voel as iemand jou in die werkplek te nagekom het of as jy uitvind dat jy die slagoffer van ’n skinderstorie was? Ons eerste reaksie is meestal om terug te veg en ons onskuld te probeer bewys terwyl ons die persoon wat ons te nagekom het terug slegsê. Hierna tob ons oor die onregverdige daad teen ons terwyl ons onbewustelik in die vyand se strik trap om ons vreugde en vrede te verloor.
In verlede week tref só ’n situasie my. Ontnugter, geskok en seergemaak oor die onsensitiewe onwaar uitlating teen my, was ek gereed om terug te veg toe ek skielik die stem van die Heilige Gees in my binneste ervaar: “Benescke, gaan jy nou in jou eie krag probeer terugveg en jou vreugde en vrede verloor of gaan jy My vertrou om namens jou die stryd te voer?!” Dié woorde het my in my spore gestuit by die besef hoe magteloos ek sonder God se ingryping is.
Sit jy ook tans in ’n situasie waar jy reg is om kwaad met kwaad te vergeld weens ’n onregverdige daad of uitlating teen jou? Dalk is jy te nagekom in ’n besigheidstransaksie, in die werkplek of deur ’n ’n familielid of goeie vriend of vriendin seergemaak. Gaan jy in die vyand se strik trap deur in jou eie krag te probeer terugveg (en jou vreugde en vrede verloor), of gaan jy die situasie aan God oorlaat en vertrou dat Hy namens jou kan veg?
God is ’n regverdige regter. In Psalm 9:5 lees ons: “Toe U op die troon gaan sit het as betroubare regter, het U aan my reg laat geskied. . .” Ook in Jesaja 54:17 lees ons: “Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie; elkeen wat vals teen jou getuig, sal gestraf word. Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg. Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.” En in Jesaja 5:16 staan geskryf: “Die Here die Almagtige is verhewe, Hy laat reg geskied . . . Hy oordeel regverdig.”
Hoe lyk jou vreugde en vrede vandag? Kom ons maak dit ons doelwit om dít te beskerm terwyl ons opnuut na God, ons regverdige Regter, draai in vertroue dat Hy namens ons die oordeel sal fel, ons name sal beskerm en ons onskuld sal bewys. Hy beloof immers dat geen wapen wat teen ons gesmee word enigiets sal uitrig nie – en dít is ’n belofte! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek elke uitdagende situasie aan U kan oorlaat en vertrou dat U my deur u Heilige Gees met wysheid sal lei om die regte besluit te neem. Help my om my vrede en vreugde te bewaar. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Vir meer skrifgedeeltes oor hoe jy God kan vertrou om jou vreugde en vrede te beskerm, besoek www.benescke.co.za