BREEK UIT EN VERTROU GOD MET JOU FINANSIES - 20 Februarie 2014
HUIDIGE TEMA:TEMA: BREEK UIT EN LÉÉF!(Vir terugvoer of voorstelle van temas in die huidige reeks, e-pos my na
Deur Benescke Janse van Rensburg
Het jy al ooit ’n punt in jou lewe bereik waar jy met jou rug teen die muur gestaan het met die wete dat net God ’n deurbraak vir jou kan bewerkstellig? Sangeres en radiopersoonlikheid, Rouchelle Liedemann en haar gesin was eens daar. Hier is haar getuienis:
Rouchelle: “Trane het oor my wange gevloei waar ek in die kombuis in ons huis gestaan het. ’n Gevoel van magteloosheid het gedreig om my te oorweldig. Hoe kon ons lewens in só ’n kort tydjie so ingrypend verander het? En waar sou ons volgende bord kos vandaan kom?
Maande vantevore het ons een oggend vroeg die skoknuus ontvang dat my man, Jamie se werkgewer vermoor is. Iemand het hom van ’n gebou in Claremont afgestamp. In daardie stadium het ons ’n gerieflike leefstyl gehandhaaf. Ons het in ’n gemaklike huis gewoon, twee voertuie besit en gereeld met vakansies weggegaan. Ek het nie nodig gehad om te werk nie aangesien ons nie ’n dag se stres oor finansies beleef het nie. Ons jongste van drie kinders was toe drie maande oud. ’n Maand ná Jamie se werkgewer dood is, is hy egter weens herstrukturering in die besigheid afgelê. Meteens was hy werkloos en ons sonder ’n inkomste.
Hoewel Jamie dadelik vir ’n ander werk begin aansoek doen het, was hy telkens onsuksesvol. Ons spaargeld het mettertyd uitgeput geraak. Die oggend wat ek in die kombuis gestaan het, het ons net R20 in die huis gehad. Ons moes besluit of ons elektrisiteit of ’n brood daarmee sou koop. My hart was geweldig seer omdat ek geweet het dat dit vir my man begin voel het of hy nie vir ons as gesin kan sorg nie. Met my rug teen die muur het ek ernstig vir God vir ’n deurbraak gevra. Net Hy kon vir ons voorsien.
Daar was meteens ’n klop aan die voordeur. Toe ek dit oopmaak, het een van ons gemeentelede op ons stoep gestaan met ’n hele paar sakke kruideniersware in die hand. God het haar gelei om dit vir ons te koop. Die woorde van van Psalm 37:25 by my opgekom: “Ek was jonk en ek het oud geword, maar nooit het ek 'n regverdige verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie. . .” Ek het geweet dat dit God was wat vir ons voorsien het.
In daardie donker finansiële maande het ons as gesin beleef hoe God ons nederig en ook diep afhanklik van Hom gemaak het – en nooit het Hy ons alleen gelaat nie. Te midde van die moeilike tyd het ek aan ’n nuwe album begin werk. In my hart het ek ervaar dat ons in geloof moes skryf oor ’n nuwe begin – hoewel ons dit nog nie beleef het nie. Ons het dit gedoen.
Terwyl ons in gehoorsaamheid en in geloof begin om God vir deurbrake te dank wat ons nog nie beleef het nie, het ons situasie begin verander. Jamie het ’n goeie werk gekry, ek het ’n oplewing in my loopbaan beleef en vandag gaan dit weer goed met ons finansieel. Vandag weet ons dat alles wat ons het ’n genadegawe uit God se hand is en ons eer Hom vir ’n wonderwerk wat ons in ons lewens beleef het.
Rouchelle is reg. God is meer geïnteresseerd in ons karakter as ons gemak. Wanneer ons Hom te midde van ons storms begin prys demonstreer ons ons geloof aan Hom. In Hebreërs 11:1 lees ons immers: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Ook in Filippense 4:6-7 staan geskryf: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Kom ons begin God prys vir wat Hy kan doen – te midde van ons storms. Die donker wolke mag dalk baie vinniger opklaar as wat ons gedink het terwyl die son weer deurbreek. Sterkte!
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U my nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie. Help my om in my donkerste dal van doodskaduwee aan te hou om U te prys omdat ek weet dat die deurbraak op pad is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Sien foto van Rouchelle en haar gesin op my webwerf, www.benescke.co.za of die sosiale netwerk, Fbook se Stories van Hoop-bladsy.
Luister na van Rouchelle se musiek: http://www.rouchelleliedemann.com/