BREEK UIT EN SPRING... HY SAL JOU VANG - 19 Februarie 2014
HUIDIGE TEMA:TEMA: BREEK UIT EN LÉÉF!(Vir terugvoer of voorstelle van temas in die huidige reeks, e-pos my na
BREEK UIT EN SPRING... HY SAL JOU VANG
Deur Benescke Janse van Rensburg
Ek gesels vroeër die week met ’n vrou wat deur haar trane aan my erken dat sy weens trauma wat sy in haar lewe beleef het, haar geloof in God verloor het. Voel jy dalk dieselfde vandag? Het ’n teleurstelling, verlies of seer wat jy in jou lewe ervaar het veroorsaak dat jy sukkel om God se goedheid raak te sien?
Ek hoor ’n storie van ’n pa wat vroegoggend wakker geskrik het nadat die rooksensor uit die kelder van hulle huis gesein het. Hy het dadelik sy vrou wakker gemaak en daarna na hulle kinders se kamers gehardloop om dieselfde te doen.
Terwyl die pa hulle dogtertjie van een en ’n halfjaar dra en hulle seuntjie van vier aan die hand uit die huis begin lei, het die rook in die huis al digter geword. In ’n stadium het die seuntjie losgebreek en vooruit gehardloop. Die pa het aangeneem dat hy buitentoe hardloop. Wat hulle egter nie besef het nie, is dat die seuntjie in sy kamer tussen die speelgoed gaan wegkruip het. Hy het gedink dat hy daar veilig sou wees.
Buite gekom het die pa geskok besef dat die kind nie daar is nie. Toe hy opkyk kon hy die verskrikte seuntjie se koppie by sy slaapkamervenster sien uitsteek waar hy uit volle bors om hulp skree. Die pa het dadelik onder die kamervenster gaan staan en vir die seuntjie geskree om af te spring. Benoud het hy teruggeantwoord: “Maar pappa, ek kan jou nie sien nie!” Hierop het die pa geantwoord: “Toemaar, ek kan jou wel sien!” Die seuntjie het in geloof gespring en veilig in sy pa se arms geland.
Wanneer ons uitdagende situasies in ons lewens ervaar, kan ons maklik soos die seuntjie op die eerste verdieping van die brandende huis vasgevang voel omdat ons sukkel om God, ons Vader, deur die “rook” raak te sien. Sy oë bly egter konstant op ons. Luister maar na die woorde in Psalm 33:13-14: “Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van die plek waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon.” Ook in 2 Kronieke 16:9 lees ons: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.”
Ook in die Sistynse Kapel in die Vatikaanstad demonstreer die skilder, Michelangelo bogenoemde met sy “Skepping van Adam”-skildery. Hierin steek God sy hand na die mensdom uit. Al wat ons moet doen om Sy krag en goedheid te ervaar, is om Sy hand aan te raak. In Jakobus 4:8 lees ons immers: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”
Wanneer twyfeling, bitterheid of hartseer weer dreig om jou te oorweldig, herinner jouself daaraan dat God, nes die pa langs die brandende huis, gereed staan om jou te vang (al sien jy Hom nie). Steek gerus jou hand uit om aan Syne te raak. Dít mag dalk net jou lewe verander. Onthou, die Skepper van die Heelal is ’n waarmaker van sy Woord en as Hy sê dat jy Hom sal vind as jy na Hom soek, is dit presies wat sal gebeur. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U my nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie. Help my om op U te vertrou al voel ek soms of ek U nie kan raaksien nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Sien ’n foto van Michaelangelo se skildery op www.benescke.co.za of op die sosiale netwerk, Fbook, se Stories van Hoop bladsy.