Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

BREEK UIT EN KIES DIE “BADEENDJIE” - 18 Februarie 2014

HUIDIGE TEMA:BREEK UIT EN LÉÉF!(Vir terugvoer of voorstelle van temas in die huidige reeks, e-pos my na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)

Deur Benescke Janse van Rensburg

 

’n Rol rol toiletpapier of ’n splinternuwe, helderkleurige badeendjie? Dít was waaruit my 11 maande oue dogtertjie, Joalé ’n paar aande gelede tydens badtyd kon kies.

Joalé is in haar ontdekkingsfase en het om een of ander rede ’n fassinasie met ’n toiletpapierrol ontwikkel. Sodra sy een in die hande kry, word dit afgerol en in die mond gedruk – tot my ontsteltenis! Toe ek ’n paar aande gelede in die badkamer kom nadat ek ’n handdoek gaan haal het, staan sy met ’n breë, tevrede glimlag en kyk na my met die halwe toiletpapierrol in die hand.

Ten spyte van al my pogings om dit uit Joalé se hande te neem en haar aandag op die splinternuwe, helderkleurige badeendjie te plaas, wou sy niks weet nie. Sy wou net die toiletpapierrol hê. Op die end moes ek haar noodgedwonge met die toiletpapierrol in die bad sit.

Terwyl ek staan en kyk hoe die grillerige, nat toiletpapier in die water begin ronddryf saam met die splinternuwe badeendjie wat onaangeraak op die badwater dobber, tref dit my: Ons doen baiekeer presies dieselfde in ons geloofslewe. Ons bid vir ’n antwoord op ’n uitdagende situasie. Hoewel God ons antwoord, mis ons dit omdat ons vaskyk teen ons vooropgestelde idee van hoe ons dink God ons behoort te antwoord. Óf ons hou so vas aan die verlede, ’n onvergewensgesindheid of ’n seisoen wat eintlik al verby is (in die werkplek, ’n verhouding wat beëindig is of vele ander) dat ons nie sien wat God nuut in ons lewens wil doen nie. 

God werk egter op maniere buite ons verwysingsraamwerk – en ons moet oop wees daarvoor. Dink maar aan Moses wat by die Rooisee op die water moes slaan om ’n pad daardeur te maak; Josua en die Israeliete wat sewe maal om Jerigo moes stap voordat hulle op die ramshorings geblaas het en gesien het hoe die stad se mure inmekaartuimel; of Petrus wat die boot moes los om op die water te stap. Omdat Moses, Josua en Petrus gehoorsaam aan God was, het hulle sy krag beleef.

As ons God se krag in ons lewens wil beleef is ons gehoorsaamheid en vertroue dat Hy die beste weet ook van kardinale belang. In 1 Samuel 15:22 lees ons immers: “Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme.” In Johannes 5:16 sê Jesus: “Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so.” En in Jesaja 55:8-9 praat God self: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.”

Is jy gehoorsaam as God met jou praat en aanvaar jy sy antwoord is die beste – al maak dit nie noodwendig vir jou sin nie? As my dogtertjie die toiletpapierrol vir ’n oomblik neergesit het en die badeendjie opgetel het, sou sy nie net besef het dat dié baie meer geskik is vir die badomgewing nie; as sy kon praat is ek seker sy sou my vra om die grillerige, nat los stukke toiletpapier uit die bad te verwyder. Dryf daar dalk ook van dié stukke in jou lewe rond? Moenie so vaskyk in die rol toiletpapier dat jý God se “helderkleurige badeendjie” vir jou situasie miskyk nie! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek weet dat U altyd vir my die beste beplan. Vergewe my waar ek in die verlede weens my eie vooropgestelde idees nie ingestel was op u antwoord vir ’n bepaalde uitdaging nie en help my om dit nie vandag te mis nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Previous article: BREEK UIT EN SPRING... HY SAL JOU VANG - 19 Februarie 2014 Prev Next article: BREEK UIT EN LEEF POSITIEF - 17 Februarie 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.