Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

BREEK UIT EN LEEF POSITIEF - 17 Februarie 2014

HUIDIGE TEMA:TEMA: BREEK UIT EN LÉÉF!(Vir terugvoer of voorstelle van temas in die huidige reeks, e-pos my na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)

Deur Benescke Janse van Rensburg

Op ’n dag word ’n man deur die koning van sy land ter dood veroordeel. Ten spyte van al sy pleidooie wou die koning niks weet nie. “Neem hom weg!” het hy beveel terwyl sy knegte die man sleep-sleep uit die vertrek begin verwyder het. “Koning,” het die veroordeelde man vir oulaas oor sy skouer geskree, “as u my lewe spaar, sal ek u perd, daardie een waarvoor u so geweldig lief is, binne ’n jaar leer vlieg!”

Tot almal se verbasing het die koning sy knegte gestop voordat hy bulder, “Toegestaan! Onthou egter, as die jaar verby is en my geliefde perd kan nie vlieg nie, hang jy!”

Daardie aand by die huis wou die man se familie bekommerd weet hoe hy beplan om die perd te laat vlieg. “Ag,” het die optimistiese siel geantwoord, “wie weet? Die onregverdige koning mag dalk die jaar sterf. Of die perd kan vrek. Of dalk, net dalk leer ek hom wel vlieg . . .”

Net soos hierdie man kan ons ook met ’n positiewe ingesteldheid berge versit. Net so kan ’n negatiewe ingesteldheid ons al dieper in die put van depressie laat wegsak. Dus, deur watter bril kyk jy na jou huidige siektetoestand, jou werkloosheid, jou finansiële krisis, jou rebelse tiener, jou gebroke huwelik of jou eensaamheid? Ons lewensingesteldheid het ’n invloed op ons woorde en ons woorde weer op wat ons in ons lewens ervaar. In Spreuke 18:21 lees ons immers: “Dood en lewe is in die mag van die tong . . .” Die Psalmdigter het die verstaan. Dit is dus geen wonder dat hy in Psalm 141:3 bid: “Sit ’n wag voor my mond Here. Hou tog wag oor wat ek sê. Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge.”

As ons verstaan wat God oor ons lewens sê, raak dit makliker om ’n positiewe gesindheid te behou of selfs aan te leer – selfs in die grootste storm. In Jeremia 29:11 sê God: “Ek weet wat Ek vir julle beplan . . . voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!” In Romeine 8:28 lees ons: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” En in Psalm 23:6 staan geskryf: “U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.”

Ek vra jou weer: Deur watter bril kyk jy na jou huidige storm? Kom ons maak dit ons doelwit om verby ons uitdagings te kyk en reeds in ons geestesoog te sien hoe God ons genees, hoe Hy vir jou as werklose ’n werkgeleentheid gee, hoe Hy finansiële krisisse kom omdraai, rebelse tieners tot inkeer bring, gebroke huwelike herstel en vir die wat smag na ’n lewensmaat, die regte persoon oor hul paaie stuur. Niks is vir God onmoontlik solank ons dieselfde ingesteldheid behou as die man wat geglo het dat die perd kan vlieg! Sterkte.

Vader God, baie dankie vir u goedheid en guns in my lewe. Help my om weg te kyk van my uitdagings en myself te herinner aan wat U vir my kan doen. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Previous article: BREEK UIT EN KIES DIE “BADEENDJIE” - 18 Februarie 2014 Prev Next article: BREEK UIT EN BRING VREUGDE AAN ANDER - 14 Februarie 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.