Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

BREEK UIT EN BRING VREUGDE AAN ANDER - 14 Februarie 2014

HUIDIGE TEMA:TEMA: BREEK UIT EN LÉÉF!(Vir terugvoer of voorstelle van temas in die huidige reeks, e-pos my na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)

Deur Benescke Janse van Rensburg

 

Vandag met Valentynsdag wil ek ’n storie met jou deel van Kent Nerburn, ’n taxibestuurder, het my geweldig aangeraak het. My hoop is dat dit jou sal inspireer om liefde te betoon aan elkeen wat jou pad kruis.

Ken: “Dit was 02:30 die oggend toe ek voor die stil, donker gebou parkeer. ’n Passasier het ’n rygeleentheid benodig. ’n Enkele lig het uit ’n woonstel op die grondvloer geskyn. Waar die meeste taxibestuurders een of twee keer die toeter sou blaas voordat hulle vertrek as niemand verskyn nie (aangesien dit vroegoggend gevaarlik is om só ’n donker gebou te betree), het ek egter daardie oggend besluit om te gaan kyk of ek die passasier kon opspoor.

Ná my klop aan die deur van die grondvloerwoonstel, het ’n bejaarde vrou se stem opgeklink. ‘Ek is op pad.’ Ek kon hoor sy trek iets op die vloer. ’n Skraal, klein vroutjie, diep in haar tagtigs, het voor my gestaan toe die deur oopgaan. ‘Sal jy my sak na die motor dra?’ het sy vriendelik gevra. ‘Ek wil net ’n paar oomblikke alleen hê. Kom haal my dan asseblief. Ek is nie baie sterk nie.’

Ek het die tas na die taxi gedra en teruggegaan om die vroutjie te help. Terwyl ons stadig na die taxi gestap het, het sy my deurentyd vir my goedheid bedank. In die taxi het sy vir my ’n adres gegee waarheen sy wou gaan en toe gevra of ek deur die stad sou ry. Dit was nie die kortste roete nie. Ek het haar ingelig dat dit duurder kan wees, waarop sy geantwoord het. ‘Ek geen nie om nie. Ek is in geen haas nie, aangesien ek na die hospice op pad is.’ In my truspieëltjie kon ek die hartseer in haar oë sien. ‘Ek het geen familie oor nie,’ het sy voortgegaan. ‘Die dokter het voorgestel dat ek soontoe gaan aangesien ek nie meer lank het om te leef nie.’

Ek het stil oorgeleun en die taximeter afgeskakel voordat ek vra: ‘Watter roete wil u hê moet ek volg?’ Vir die volgende twee ure het ons deur die stad gery. Die vroutjie het my die gebou gewys waar sy eens as ’n huisbakoperateur gewerk het. Ons het deur die woonbuurt gery waar sy en haar man na hulle troue gewoon het. Sy het gevra dat ek ook vir ’n oomblik voor ’n groot meubelwinkel stop wat in die verlede ’n danssaal was waar sy as jong meisie gaan dans het. Met tye het sy gevra dat ek stadiger ry; ander kere moes ek vir ’n oomblik op ’n straathoek of voor ’n gebou stop terwyl sy woordeloos voor haar uitgestaar het. Eers toe die eerste tekens van sonsopkoms op die horison verskyn, het sy gesê: “Ek is moeg. Kom ons gaan na my eindbestemming.”

In stilte het ons tot by die adres gery. Twee mans het dadelik uit die gebou gestap om haar uit die taxi te help. Dit was duidelik dat hulle op haar koms gewag het. Ek het die vroutjie se tas uit die kattebak gehaal. Sy was reeds in ’n rolstoel langs my toe sy vra. ‘Hoeveel skuld ek jou?’Ek het na haar gekyk. ‘Niks,’ het ek geantwoord. ‘Nee, jy moet nog ’n bestaan voer,’ het sy gesê. ‘Daar is altyd nog passasiers,’ was my reaksie. Sonder om te dink, het ek afgebuk en haar ’n druk gegee. Sy het my vir ’n oomblik styf vasgedruk voordat sy sag sê. ‘Jy het vandag aan ’n ou vrou ’n oomblik van vreugde gegee. Dankie.’ Ek het haar hand sag gedruk terwyl ek met ’n knop in my keel weggestap het. Agter my kon ek hoor hoe die deur toegaan. Dit was die klank van ’n lewensboek wat toeslaan.

Die res van daardie dag het ek geen passasiers opgelaai nie. Ek het eerder doelloos rondgery terwyl ek gewonder het hoe anders dit sou wees as hierdie vrou ’n aggressiewe, ongeduldige bestuurder gekry het? Sê nou ek het net die toeter gedruk en gery as sy nie vinnig genoeg verskyn het nie? Sê nou ek was nie lus vir gesels nie? As ek terugdink aan hoe sy my bedank het vir haar “oomblik van vreugde”, kan ek nie help om te wonder of dit nie dalk die rede was waarvoor ek geskape is nie: Om haar op die laaste roete van haar lewe te vervoer. Soms voel dit selfs as die belangrikste ding wat ek al in my lewe gedoen het.”

Ken is reg. God plaas elke dag geleenthede op ons lewenspad om ’n verskil in ander mense se lewens te maak. In Johannes 13:34-35 sê Jesus: “Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

 

Kom ons wees Jesus se dissipels deur met liefde en geduld teenoor ons medemens op te tree. Jou vriendelikheid kan dalk vir iemand ’n vreugde-oomblik wees wanneer hulle dit verskriklik nodig het. Sterkte.

 
Vader God, baie dankie vir u onvoorwaardelike liefde vir ons elkeen. Help my om elke geleenthede in my lewe aan te gryp om vreugde aan ander kan bring. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Die volle storie is in Kent Nerburn se boek, Make Me an Instrument of Your Peace.

Previous article: BREEK UIT EN LEEF POSITIEF - 17 Februarie 2014 Prev Next article: BREEK UIT EN WEN DIE STRYD IN JOU GEDAGTES - 13 Februarie 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.