Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

BREEK UIT EN WEN DIE STRYD IN JOU GEDAGTES - 13 Februarie 2014

HUIDIGE TEMA:TEMA: BREEK UIT EN LÉÉF!(Vir terugvoer of voorstelle van temas in die huidige reeks, e-pos my na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)

Deur Benescke Janse van Rensburg

Dink jouself vir ’n oomblik in die volgende situasie in. Jy is ’n troep op ’n missie. Jy en jou kollegas is gestuur om ’n gevaarlike vyand te gaan beveg. In die kajuit van die vliegtuig waar julle sit, is jul van kop tot toon gekamoefleer. Die spanning is tasbaar by die wete dat een van julle jul lewens op hierdie missie kan verloor.

Die vliegtuig land en soos die valdeur oopskuif, klink die eerste skote van die vyand op. Julle is in die middel van ’n volskaalse oorlog. Meteens tref dit jou: Jy het geen wapens by jou nie. Geen geweer, ammunisie of ’n handgranaat nie. Jou hart klop vinnig. Jou handpalms sweet. Gaan jy vandag jou lewe verloor?

Dit klink absurd om ’n oorlog sonder wapens te betree. Tog, as ons ’n dag sonder kennis van die Woord van God instap, is dit presies wat ons doen. Die vyand val ons in ons gedagtewêreld aan met negatiewe gedagtes en sonder die Woord van God kan hy die oorhand oor ons kry deur ons depressief en moedeloos te laat.

In Romeine 12:2 lees ons egter: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.” Ook in 2 Korintiërs 10:3-5 lees ons: “Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig.” Die enigste gedeelte van die wapenrusting waarmee ons die vyand kan aanval, is die swaard, naamlik die Woord van God.

So wat is die oplossing om die oorwinning te behaal? Wen die stryd oor jou gedagtes. Hoe doen ’n mens dit? Ons volg Jesus se voorbeeld in die woestyn deur terug na God se beloftes te gaan en die vyand daaraan te herinner.

Kom ons maak dit prakties. Wat is jou uitdaging? Begin om skrif rakende dít neer te skryf en te memoriseer. As jy byvoorbeeld konflik in die huwelik beleef en die vyand jou wil laat glo dat jou maat nooit gaan verander nie, kan jy hom aan die woorde in Spreuke 21:1 herinner: “Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos 'n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies.” Ook in Esegiël 36:26 staan geskryf: “Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee.” Of as jy ’n krisis beleef en die vyand jou wil laat glo dat die toekoms donker lyk sonder ’n moontlike oplossing, kan jy hom aan die woorde in Psalm 37:5 herinner: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

God se Woord is ons wapen teen die vyand. Kom ons maak ’n punt om dit in ons harte te bêre sodat ons onsself nooit op ’n plek bevind waar die eerste skote begin klap en ons weerloos staan sonder ’n geweer, ammunisie of ’n handgranaat om in die gees na te gryp nie. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat u Woord vasstaan. Lei my deur u Heilige Gees na die regte skrifte om te memoriseer sodat dit my staande kan hou in enige storm. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Vir nog voorbeelde van skrifgedeeltes om jou uitdaging te beveg: Besoek www.benescke.co.za of die STORIES VAN HOOP bladsy op die sosiale netwerk, Fbook.

Previous article: BREEK UIT EN BRING VREUGDE AAN ANDER - 14 Februarie 2014 Prev Next article: BREEK UIT EN LAAT JOU VOORBEELD TEL - 12 Februarie 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.