Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

BREEK UIT EN LAAT JOU VOORBEELD TEL - 12 Februarie 2014

HUIDIGE TEMA: TEMA: BREEK UIT ENLÉÉF! (Vir terugvoer of voorstelle van temas in die huidige reeks, e-pos my naThis email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)

Deur Benescke Janse van Rensburg

 

’n Jong prediker wou graag by die bekende Franciscus van Assisi leer. Die jongman het aangehou totdat Franciscus op ’n dag ingestem het met die woorde: “Ek gaan vandag by ’n naburige stad preek. Jy kan saamgaan as jy wil sien hoe ’n mens dit doen.” Die jongman was baie opgewonde.

Die hele dag het Franciscus en die jong prediker deur die hoof- en agterstrate van die stad gestap. Vir sommige van die inwoners het hulle uitgevra, ander is getroos en nog ander met raad bedien. Hulle het deur die loop van die dag met letterlik honderde mense skouers geskuur.

Teen die einde van die dag het Franciscus aanstaltes gemaak om te vertrek toe die jong prediker verbaas en half teleurgesteld vra.“Maar u het dan nooit gepreek of oor Jesus gepraat nie. Was dit dan nie die idee van ons besoek nie?” Franciscus het geglimlag voordat hy antwoord. “Ons het oral gepreek. Baie mense het ons gesien en omdat hulle weet dat ons Christene is, is ons gedrag fyn dopgehou. Dit help immers niks om vir ander te preek as ons lewens nie self ’n preek is nie.”

Dink vir ’n oomblik hoe jy optree as ’n onverskillige bestuurder in die verkeer voor jou insny, as jou knorrige baas jou onnodig uittrap, as jou tiener ’n sarkastiese opmerking maak, as jy vir die soveelste keer jou huweliksmaat se klere agter hom moet optelof as jou buurvrou se hond weereens gate in jou tuin kom grou. Lééf jy Jesus of verloor jy jou humeur terwyl jy skree en skel?

In 1 Korintiërs 11:1 skryf Paulus: “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.” Paulus het verstaan dat geen woorde so kragtig is as sy voorbeeld nie – en dat juis om hierdie rede het hy dit sy doel gemaak om Jesus se voorbeeld uit te leef.

Kom ons keer terug na wat eintlik belangrik is deur dit ons doelwit te maak om Jesus te lééf vir die mense om ons. Dít bly immers die kragtigste preek wat jy ooit sal afsteek. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek U mag ken. Help my asseblief om in elke situasie in woord en daad Jesus se voorbeeld uit te leef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Previous article: BREEK UIT EN WEN DIE STRYD IN JOU GEDAGTES - 13 Februarie 2014 Prev Next article: BREEK UIT EN AANVAAR JOUSELF - 11 Februarie 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.