BREEK UIT EN AANVAAR JOUSELF - 11 Februarie 2014
HUIDIGE TEMA:TEMA: BREEK UIT EN LÉÉF!(Vir terugvoer of voorstelle van temas in die huidige reeks, e-pos my na
Deur Benescke Janse van Rensburg
Een leser skryf in verlede week: “Ek is al 43 jaar oud en sukkel my hele lewe lank om myself te aanvaar. Dit sal wonderlik wees om oorwinning hieroor te kry. Help asseblief.”
Sukkel jy ook om jouself te aanvaar? Vergelyk jy jouself konstant met ander ten opsigte van jou fisiese voorkoms, jou vermoëns, jou familie of jou bankbalans terwyl jy minderwaardig voel?
Kom dan vir ’n oomblik saam met my terwyl ons in die goue straat afstap. Kan jy hoor hoe die getimmer in die vêrte al harder word soos ons nader stap? Dan bereik ons, ons eindbestemming waar groot vet letters teen die deur ons begroet: “Die Hemel se werkswinkel”. Ons loer versigtig in by die deur en wat ons sien laat ons na ons asems snak. Daar is rye en rye neuse, oë, monde, ore, hande, bene en elke ander liggaamsdeel. Dan tref die grootste verrassing ons: In die middel van die vertrek staan ons Meester en Vader, besig om vir nog ’n nuwe skepsel op sy werkbank ’n unieke stel te kies – nie net in fisiese voorkoms nie, maar ook in persoonlikheid en lewensdoel op aarde.
Besef jy dat jy ook eens op die werkbank voor God gelê het? Hy het jou ook uniek saamgeweef en niemand op aarde kan jou lewensdoel uitleef behalwe jy nie. Die vyand weet dit en juis hierom wil hy ons oneffektief maak deur gedagtes in ons te plaas om onsself met ander te vergelyk en dan minderwaardig te voel. In Psalm 139:13-18 vind ons egter drie kernwaarhede wat ons kan help om ons uniekheid nuut te besef – en uit te leef:
- God het ons aanmekaar geweef: In Psalm139:13 lees ons: “Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep ... geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.” God het jou geskep soos jy is vir ’n bepaalde rede en lewensdoel.
- God ken ons aantal lewensdae op aarde: In Psalm 139:15 lees ons: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” God weet presies waarheen Hy met jou lewe op pad is.
- 3. God het ontelbaar gedagtes oor ons elkeen: InPsalm 139:17-18 lees ons: “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is . . .” God het groot drome vir jou lewe.
As jy dus weer begin minderwaardig voel as jy jou mooi vriendin, ryk vriend, gewilde kollega of die vriende met die slim, sportiewe kinders raakloop, gaan staan doelbewus voor die spieël terwyl jy God begin dank vir jou uniekheid (selfs al voel jy glad nie lus om dit te doen nie en selfs al is daar grys hare, ’n boep, ’n bles of ’n skewe neus wat uit die spieël na jou terugstaar). Dank Hom ook vir jou vermoëns, jou persoonlikheid en lewensdoel. Jy mag dalk net verbaas staan oor hoe vinnig die minderwaardigheidsgevoel verdwyn by die besef dat geeneen van “daardie ander mense” oor die potensiaal beskik wat God spesifiek vir jou gegee het om ’n verskil in die wêreld te maak nie.
Onthou, jy was ook eens op die werkbank. God se unieke pakkie in jou was sy geskenk aan jou. Wat jy daarmee doen, is jou geskenk aan Hom. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U my uniek geskape het. Help my om myself nie met ander te vergelyk en te mis wat U spesifiek vir my beplan het nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.