Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

BREEK UIT EN LÉÉF... WANT HY HET DIE UITWEG UIT JOU KRISIS - 10 Februarie 2014

TEMA: BREEK UIT... EN LÉÉF!

Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Leser skryf in verlede week: “Ek voel asof ek nie weet watter kant toe nie. Elke besluit wat ek neem eindig in ’n doodloopstraat. Ek wil moed opgee op die lewe. Help asseblief.”

 

Voel jy dieselfde as hierdie leser vandag? Sit jy dalk met ’n uitdaging wat jou magteloos laat voel – kompleet asof jy in ’n donker kamer staan terwyl die mure van die kamer in jou rigting beweeg om jou te verswelg?

 

’n Tyd gelede vra ek die luisteraars tydens my radioprogram om my van hul grootste verrassing nóg te vertel. Uit die groot verskeidenheid humoristiese, interessante SMS-boodskappe wat ek ontvang het, was daar ook hierdie effens ernstiger een van Adriaan. Hy het geskryf:“My verrassing was dat ek God se stem gehoor het toe ek wou selfmoord pleeg. Sy woorde aan my was: ‘My kind, as jy dit vandag doen, gaan jy My die kans ontneem om in jou lewe te werk.’ Tot vandag toe sien ek daagliks God se hand in my lewe.”

 

Die vyand is daarop uit om ons te laat glo dat daar geen uitweg uit ons krisisse is nie. Dít is egter ’n leuen. By God is daar altyd hoop en ’n uitweg. Luister maar na die Psalmdigter se woorde in Psalm 40:2-4: “Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ’n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het ’n nuwe lied in my mond gelê. . . baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring, hulle sal op die Here vertrou.” 

 

Ook in Jesaja 43:1,2,16 lees ons: “As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie . . . So sê die Here, Hy wat 'n pad gemaak het deur die see, 'n deurgang deur die magtige waters. . .”

 

Wat is die uitdaging wat jou vandag, soos die Psalmdigter, laat voel asof jy in ’n “put van die dood” staan? Het jy ’n slegte mediese verslag gekry? Weet jy nie waar jou volgende bord kos vandaan gaan kom nie? Is jou huwelik besig om uitmekaar te val? Het jy ’n krisis by die werk? Of weet jy soos bogenoemde leser of Adriaan wat die SMS ingestuur het nie meer watter kant toe om te draai nie?

 

By God is daar altyd hoop en’n uitweg. Hy het sy grootheid aan ons gedemonstreer deur vir die Israeliete ’n pad deur die see te maak. Net so het Hy in Adriaan se lewe gewerk toe hy Hom toegelaat het. As jy dus vandag voel of jy in ’n donker kamer staan, gee Hom ’n kans om vir jou ’n deur uit te maak sodat jy die kamer kan agterlaat terwyl jy ’n nuwe, beter lewe saam met Hom tegemoet stap. Onthou by Hom is daar geen beperkinge nie. Sterkte.

 

Vader God, dankie dat U elke uitdaging in my lewe ken. Help my om soos die Psalmdigter aan te hou om op U te vertrou met die wete dat U ook aan my ’n deurbraak sal kan bewerkstellig op die regte tyd en manier. Ek vra daarvoor in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Previous article: BREEK UIT EN AANVAAR JOUSELF - 11 Februarie 2014 Prev Next article: BREEK UIT EN LÉÉF... WANT GOD IS IN BEHEER - 7 Februarie 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.