Vers n dag - 14 Julie
TEMA VIR HUIDIGE REEKS: STEL JY GOD EERSTE?
DAG 9: STEL JY GOD EERSTE... WANNEER DIT BY VERGIFNIS KOM
Deur: Benescke Janse van Rensburg
Raoul Moat. Het jy al ooit die naam gehoor? As jy die Britse televisiekanale oor die afgelope paar dae gevolg het, sal jy goed weet wie hierdie 37-jarige voormalige sekuriteitswag vir nagklubs is. Moat is op 1 Julie vanjaar uit die tronk vrygelaat nadat hy weens gewelddadige optrede vir 18 weke lank opgesluit was.
Oomblikke nadat Moat vrygelaat is, het hy op sy profiel op een van die sosiale netwerke geskryf: “Just got out of jail, I've lost everything, my business, my property and to top it all off, my lass of six years has gone off with a copper that took me in. I'm not 21, and I can't rebuild my life. Watch and see what happens ... â€
Twee dae later het Moat met ’n geweer by sy vorige meisie se huis opgedaag. Toe haar nuwe kêrel die deur oopmaak het Moat hom doodgeskiet. Hy het ook die meisie ernstig gewond voordat hy op vlug geslaan het. Hierna het hy die polisie met ’n uittartende dreigement gebel dat hy hulle een vir een gaan uitmoor. Hy het gedink sy vorige meisie het met ’n polisieman weggeloop. Kort hierna het Moat ’n onskuldige polisieman in sy gesig geskiet.
Vir die volgende paar dae het die Britse polisie met helikopters, honde en selfs ’n Royal Air Force vliegtuig na Moat gesoek terwyl die Britse publiek in vrees geleef het met die wete dat Moat enige oomblik op hulle kan losbrand. Eindelik, op 9 Julie, is Moat in Rothbury vasgetrek – meters weg van die stormwaterkanaal waarin hy ’n week lank vir die polisie weggekruip het. Ses ure lank het die polisie met Moat probeer onderhandel terwyl hy met sy eie geweer teen sy kop op die grond gelê het. Die onderhandelinge het misluk en net na 01:00 op 10 Julie het Moat selfmoord gepleeg.
Woede, jaloesie en verwerping het in Moat se geval die oorhand gekry. Ek kan nie help om te wonder wat deur Moat se gedagtes gemaal het waar hy in die tronksel opgesluit gesit het nie? Watter geselskap hy gehad het? Het hierdie geselskap sy woede en jaloesie aangepor om in bitterheid en wraak te verander? Hoekom anders sou Moat só impulsief wraak geneem het dae ná sy vrylating?
Dalk loop jy ook soos Raoul Moat met ’n onvergewensgesindheid in jou hart rond. Jy sal darem nooit moord pleeg nie, maar besef jy dat jy nie nodig het om moord te pleeg om geweldige skade aan die mense die naaste aan jou aan te rig nie? Bitterheid in ’n mens se lewe is soos ’n kokende pot. Jy dink jy kan dit beheer, maar as jy dit nie betyds van die stoof afhaal nie, kook dit oor met geweldige skade.
In Efesiërs 4:26-27 waarsku Paulus ons dat ons nie ’n dag moet kwaad afsluit nie, omdat ons só vatkans vir die duiwel in ons lewens gee. En in Matteus 6:14-15 praat Jesus self ook oor die belangrikheid van vergifnis: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie."
Is daar iemand in jou lewe wat jy weet jy moet vergewe? Doen jy dit of gee jy aan die duiwel ’n vatkans om jou gedagtes met wraak en bitterheid te vul? Met wie omring jy jou? Mense wat jou inspireer om te vergewe of mense wat jou bitterheid en haat aanstook? Kies om God vandag bó jou eie reg om jou naaste terug te kry te stel. En kies om jou rug op die verlede te draai en weg te stap. DÃt is ware vergifnis.
Vader God, baie dankie dat ek U kan vra om my te help om (die persoon wat jy sukkel om te vergewe se naam) te vergewe. Help my asseblief om nie aan die duiwel vatkans te gee en bitterheid en wraak in my hart te kom vestig nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Kyk foto’s van Moat hier: http://news.sky.com/skynews/Home/UK-News/Gunman-Raoul-Moat-Stand-Off-With-Police/Media-Gallery/201007215662532
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na:
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel van wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n epos aan:
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag dagstukkie te adverteer, kontak gerus