Vers n dag - 15 Julie
TEMA VIR HUIDIGE REEKS: STEL JY GOD EERSTE?
DAG 10: STEL JY GOD EERSTE ... WANNEER DIT BY VERGIFNIS KOM (DEEL 2)
Deur: Benescke Janse van Rensburg
Ná gister se storie van Raoul Moat het ek verskeie interessante stories en vrae van lesers ontvang. Ek het besluit om ’n deel twee by gister se tema te voeg en deel daarom ’n uittreksel uit een van die eposse wat ek van ’n leser, professor John Higgins, ontvang het:
Prof. John: “Ek het die gewoonte om 05:00 soggens op te staan. Nadat ek my stiltetyd met die Here gehou het, spring ek aan die werk met my skryfwerk omdat ek ten tye van die spesifieke insident wat ek wil deel teen 08:00 by die kantoor moet wees. Inaggenome die spertye en druk van my uitgewers se kant af, was my skryftyd vir my geweldig kosbaar.
“Een oggend, terwyl ek ons hondjie uitlaat, merk ek dat sy nie haar nood deur die nag kon uitstaan nie en daarom die woonkamer daarvoor gebruik het. Ek was onmiddellik boos. As ek eers die hond se gemors moes skoonmaak, sou dit my van my kosbare skryftyd beroof. Hardhandig het ek haar by die agterdeur uitgehelp.
“Toe ek eindelik in die studeerkamer gaan sit en die Bybel nadertrek, wou niks wat ek lees by my registreer nie. Dit was amper asof die voorval met die hond ’n muur tussen my en die Here opgerig het. Nederig het ek Hom om vergifnis gevra dat ek so wreed teenoor die hondjie was. Hoewel ek beter gevoel het, het ek steeds nie 100% vrede in my gemoed gehad nie.
“Weer het ek die Heilige Gees gevra wat die probleem was. Dié keer het ek ’n interessante opdrag in my hart gekry. Ek moes die hond om verskoning gaan vra. Maar hoe kon ek? ’n Hond kan mos nie verstaan nie! En boonop, wat sal die mense van my dink as hulle moet uitvind dat ek, ’n ‘geleerde’ man, so iets simpel doen? Op elke argument van my kant af was die Heilige Gees se stem steeds duidelik: ‘Gaan vra die hondjie om vergifnis.’ Op die ou end sê ek toe: ‘Here, as dit is wat U van my verwag, sal ek dit doen.’
“Buite het ek die hondjie geroep wat bang nader gekom het. Nadat ek haar in my arms opgetel het, het ek gesê: ‘Ou Purdey, ek is jammer dat ek so wreed teenoor jou was. Ek vra jou om vergifnis.’ Meteens het haar hele houding teenoor my verander terwyl sy my ’n lek in die gesig gegee het. In my hart het ek terselfdertyd ervaar hoe die muur tussen my en God verdwyn het. Daardie dag het ek verstaan dat ware vergifnis nie net uit woorde bestaan nie, maar dat dit ’n gesindheidsverandering vereis. Die hondjie kon nie my woorde verstaan nie, maar sy kon my veranderde gesindheid aanvoel ... â€
Mattheus 5:9: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.â€
DRIE BELANGRIKE LESSE OOR VERGIFNIS:
Les 1: Vergifnis begin by ’n keuse om jou gesindheid teenoor die persoon wat jou te na gekom het, te verander. Jy kan dus iemand vergewe sonder dat jy by die persoon hoef te wees. Jy kan ook iemand vergewe wat reeds gesterf het. Jou gesindheid teenoor daardie persoon is wat eerste moet verander.
Les 2: Kies om ’n vredemaker te wees – in elke situasie. Hierdie keuse verwyder die muur wat onvergewensgesindheid meestal tussen jou en God oprig.
Les 3: Vergifnis is ’n daagliks keuse. As moeilike situasies oor jou pad kom, kan jy God vra om jou deur sy Heilige Gees te lei om te vergewe.
Onthou, die vyand loop rond soos ’n brullende leeu. Sodra jy besluit om iemand te vergewe en vry te spreek, sal hy jou konstant probeer om jou te herinner aan vorige kere waar jy te nagekom is, in die hoop dat dit jou woede weer sal laat opvlam. Kies dus om weer en weer te vergewe. Só neem jy die wind uit die vyand se seile!
Vader God, baie dankie dat ek weet dat ek eerlik met U kan gesels wanneer ek sukkel om iemand in my lewe te vergewe. Help my asseblief om my gesindheid te verander. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Kyk gerus na ’n foto van John Higgins en sy vrou, Berta met wie hy reeds 50 jaar lank getroud is op die sosiale netwerk, Fbook se STORIES VAN HOOP bladsy.
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na:
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel van wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n epos aan:
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag dagstukkie te adverteer, kontak gerus