Vers n dag - 6 Julie
TEMA VIR HUIDIGE REEKS: STEL JY GOD EERSTE?
DAG 3: DIS VOORDELIG OM GOD EERSTE TE STEL...
Deur: Benescke Janse van Rensburg
Koning Asa en Koning Hiskia. Het jy al ooit van enige van hierdie twee Ou-Testamentiese konings van Juda gehoor? Hoewel hulle sowat 200 jare uitmekaar geleef het, het hulle albei daarna gestreef om God eerste in hulle lewens te stel.
Koning Asa (2 Kronieke 14): Een van Asa se eerste projekte nadat hy as koning van Juda aangewys is, was om die altare van die afgode en hul offerplekke op die hoogtes te vernietig. Ook die klippilare van die manlike gode en die pale wat vir die vroulike afgod, Asjera opgerig is. Hy het die mense van Juda aangesê om terug na God te draai en sy wette en bevele te gehoorsaam. Asa het selfs so ver gegaan as om sy eie ouma as koninginmoeder af te sit omdat sy nie van haar afgodsbeelde ontslae wou raak nie. Die gevolg? Tien jaar lank het vrede in Juda geheers – iets ongewoon aan die tyd waarin hy geleef het. In 2 Kronieke 14:6 lees ons dat God self daardie vrede aan hulle gegee het.
Koning Hiskia (2 Konings 18): Sowat 200 jaar na koning Asa is die 25-jarige Hiskia as koning van Juda aangewys. Dit was ’n moeilike tyd in Juda se geskiedenis omdat die meeste van die mense in Juda in sonde geleef het en afgode aanbid het. Hiskia was egter anders. Nadat hy as koning aangewys is, het hy die nasie aangemoedig om terug na God te draai. Hy het ook die opdrag gegee dat alle afgodspilare, pale en altare in die land verwoes moes word. Die gevolg? Geen van die gevreesde weermagte wat teen Juda opgetrek het, kon hulle oorwin nie, want God het Juda self beskerm.
TOE KOM DIE TOETS...
Dit is maklik om te sê dat jy God eerste stel. Die egtheid van daardie oorgawe aan God word egter duidelik wanneer ’n uitdaging oor jou pad kom – wanneer ’n geliefde siek word, of jy jou werk verloor of ’n verhouding verbreek word. Stel jy God dan steeds eerste of begin jy jou eie planne maak om te oorleef? Hiskia het God tot aan die einde van sy lewe eerste gestel. God het hom daarvoor geseën. Asa het egter onder die druk geswig en sy eie planne begin maak. Ook hy moes die gevolge van sy besluite dra.
Koning Asa: In Asa se elfde jaar as koning het Serag, die Kusiet met ’n weermag drie keer groter as Juda sin teen hom opgetrek. Bewend het Asa en die volk voor God gaan staan en gesmeek dat Hy hulle moes red. God het Asa se gebed verhoor en aan hulle die oorwinning gegee. Die volk het God geprys met die wete dat Hy aan hulle die oorwinning gegee het.
Vrede het in die land geheers totdat Baésa van Aram en sy gevreesde weermag in die 36ste regeringjaar van Asa teen Juda opgetrek het. In sy vrees het Asa skoon vergeet wat teen Serag gebeur het. Pleks daarvan om weer na God te gaan, het hy die keer uit sy eie krag ’n ooreenkoms met die vyandige koning gesluit. Luister na God se reaksie hierop as Hy ’n boodskap deur die profeet Hanani aan Asa stuur: “Jy het gesteun op die koning van Aram, jy het nie op die Here jou God gesteun nie ... Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Maar nou het jy dwaas opgetree en daarom sal jy van nou af oorlog hê.†Dit het presies só gebeur.
Dalk het God in die verlede vir jou deurgekom. Jy het Hom geloof en geprys omdat jy geweet het dat die deurbraak net van Hom kom. Nou sit jy voor ’n ander uitdaging (’n gebroke huwelik, ’n krisis by die werk, finansiële druk). Onthou die profeet Hanani se woorde: “Die Here kyk gedurig die hele wêreld deur om te sien wie op hom vertrou met hulle hele hart sodat Hy hulle met sy krag kan help ... †Gaan jy soos Hiskia op God bly vertrou? Of gaan jy soos Asa die keer jou eie planne maak?
Vader God, baie dankie dat U my op hierdie oomblik raaksien en van alles in my lewe weet. Versterk asseblief my geloof om in swaar tye nie my eie planne te probeer maak nie, maar om U telkens deel van my planne te maak. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus.
- Kompetisie: Neem gerus deel aan ons VERJAARSDAG-kompetisie op ons webwerf, www.versndag.co.za. Sluitingsdatum: 9 Julie 2010.
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na:
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel van wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n epos aan:
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus