Immanuel - 28 November 2013
Riélle Heine
“Die Here sal daarom self vir julle 'n teken gee: 'n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.” Jesaja7:14
Immanuel - God met ons - hierdie Naam is vir ons sinoniem met die boodskap van Kersfees. In Johannes 1:14 staan: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon”. God neem die inisiatief om die verhouding tussen Hom en sy kinders te herstel. Hy reik as’t ware fisies uit na die mensdom, buk af, om by ons te wees. Hy word mens om Homself met ons te vereenselwig.
In hierdie Naam “Immanuel – God met ons” lê die grootste genade van alles! God besluit om met ons bemoeienis te maak. Hy besluit om ons nog ‘n kans te gee. Wat ‘n genade!
Simon Tugwell skryf: “God is die Een wat ons agtervolg. Hy soek óns. Ons hoop lê in sy vasberadenheid om ons te red. Hy sal nie ingee nie.” Ons kan staatmaak op God wat nooit tou opgooi met ons nie.
Die Engelse digter, Francis Thompson, beskryf in sy bekende gedig “The Hound of Heaven” hoe ‘n jakkals onverpoos op ‘n haas se spoor bly en nooit moeg word om te soek nie en stel dit gelyk aan God wat in sy heilige genade die vlugtende siel bly volg totdat hy na God draai.
Hierdie beeld vul my met soveel troos en hoop, want daar is hoeveel tye in my lewe wat ek kan herroep wat ek God se teenwoordigheid nie doelbewus gesoek het nie, tye toe ek God eerder probeer ontvlug het, of nonchalant my eie ding gedoen het.
“Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons. [Matteus1:23]
God is by ons. Hy waak jaloers oor sy kinders. Wat ‘n genade!
Gebed: Almagtige God, dankie dat U nooit tou opgooi met my nie. Amen