Die afwagting op Christus se wederkoms - 29 November 2013
Riélle Heine
“Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn en die see het nie meer bestaan nie. En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die Hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier was.” Openbaring 21:2
Soos wat ons ons in hierdie adventtyd moet voorberei op die Kerstyd wat op hande is, kan ons ook uitsien na Christus se wederkoms - móét ons met verwagting uitsien en onsself gereedmaak.
“Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier was.” Dink aan die voorbereiding van ‘n bruid vir haar troue: maande vooruit word elke klein detail beplan, tot die fynste besonderheid, in afwagting op die groot huweliksdag. Daar word verwys na “die heilige stad” – heilig: vir God afgesonder. Dit laat my dink aan hoe Ester vir koning Ahasveros afgesonder is en ‘n tydperk van twaalf maande skoonheidsbehandeling ontvang het om voor hom te verskyn.
Christus kom beslis weer en niemand weet wanneer nie. Hoe gereed is ek? Waarmee sal Hy my besig vind? Sal Hy my herken omdat ek soveel op die pad van heiligmaking gevorder het en ek al byna soos Hy lyk? Sal ek so voorbereid wees op sy koms dat ek instinktief net my hande na Hom kan uitsteek om Hom te verwelkom?
Ek herinner my aan die gelykenis wat Jesus in Matteus 25 vertel het van die tien meisies waarvan net vyf werklik voorbereid en gereed was om die bruidegom te ontmoet.
Laat hierdie adventtyd waarin ons ons nou bevind ons ook herinner dat Christus gegaan het om vir ons plek gereed te maak in ons Vaderhuis en dat Hy weer op die wolke sal kom. Ons kan met verwagting uitsien na sy wederkoms en gereedstaan om Hom te ontvang!
Gebed: Here God, die wete dat U weer kom, vul my met verwondering en afwagting! Laat ek ek my elke dag voorberei vir hierdie dag wanneer ek U van aangesig tot aangesig sal sien. Amen