Jesus Verlosser - 27 November 2013
Riélle Heine
Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee.” Lukas 1:30-31
God stuur die engel Gabriël na ‘n meisie in Nasaret, ‘n maagd met die naam Maria en deel met haar die nuus dat sy uitgekies is, dat sy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld sal bring. En sommer dadelik sê die engel wat sy Hom moet noem: “Jesus”.
Die Hebreeuse naam “Jesus” is nou verwant aan die naam “Joshua” wat verlossing beteken.
‘n Engel van die Here verskyn ook in ‘n droom aan Josef om met hom oor Maria te praat en hom te oortuig dat hy nie die verlowing moet verbreek nie omdat haar swangerskap deur die Heilige Gees bewerk is. “Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hul sondes sal verlos” [Matteus 1:21]. Hy laat geen twyfel by Josef oor wat die seuntjie se naam moet wees nie: “Jesus – Hy wat sy volk van hulle sonde sal verlos.”
God stuur as’t ware die engel vooruit om die voorspellings van die profete van jare tevore te bevestig: Hier kom die Verlosser! Die engel kondig die Kind se naam aan: Jesus. ‘n Naam met ‘n betekenis. ‘n Naam met ‘n belofte.
Hierdie Naam staan vir altyd. Hierdie Naam het mense in tye van donkerste duisternis en wanhoop uitgeroep en verlossing gebring. Aan hierdie belofte hou Christene deur die eeue vas. Hierdie Naam voorspel hoop, verlossing, ‘n tweede kans, ‘n nuwe lewe en ‘n weer begin! Hierdie Naam spel in hoofletters God se groot liefde vir ons, sy kinders!
Gebed: Jesus Christus – u Naam is wonderlik. Aan U kom toe alle eer! Deur U het ek verlossing gevind! Amen