Wag die Fees af (1) - 25 November 2013
Riélle Heine
Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.
Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!”
Lukas 2:10-11
Dit is vandag ‘n maand voor Kersfees.
Oral in die media word ons herinner dat ons inkopietyd vir kersinkope min raak. Uitstallings in winkelvensters probeer beter en helderder as die een langsaan wees in die wedloop om ons aandag te kry. In ons dagboeke is lang lyste van dinge wat ons nog in hierdie tyd moet afhandel voor die Kersvakansie aanbreek.
Ons as Christene maak ons in hierdie tyd gereed vir Advent. Advent kom van die Latynse woord “adventus” wat koms of aankoms beteken en verwys na die geboorte van Jesus Christus. Die bedoeling van die vier Adventsweke en spesifiek die vier Adventsondae voor Kersfees, is om die Christen se gemoed en hart voor te berei om die koms of geboorte van Christus te herdenk. Hierdie voorbereiding het geheel en al ‘n ander klem as dit wat die media en winkels uitbasuin. Dis ‘n tyd van stilword en besinning. ‘n Tyd om ons gedagtes in te stel om oor die betekenis van die koms van die Messias na te dink; ‘n tyd om saam met al die gelowiges ons te verwonder oor die omvang van Christus se liefde.
Kom ons probeer om midde in hierdie gejaagdheid tyd opsy te sit om rustig te raak en ons harte voor te berei vir Kersfees. Anders gaan dit, soos ander jare, weer ‘n dolle gejaag afgee en ons uiteindelik stokflou by die Kersfeesmaal tot verhaal kom. Kom ons skep in ons huise gesinstyd – tyd van rustig word, bestekopname, nuwe fokus en sinvolle gesprek. ‘n Tyd wat klem lê op Christus se liefdesoffer en ‘n tyd wat ons konsentreer om hierdie liefde in mekaar se lewens te bevestig.
Gebed: Here – In hierdie Adventtyd wil ek rustig word en tyd met U spandeer. Ek wil nie deel word van die geroesemoes van hierdie tyd van die jaar nie. Ek wil tyd maak om U te loof en prys. Amen