Wag die Fees af (ii) - 26 November 2013
Riélle Heine
“Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word.” Lukas 2: 6
Telkens in die Bybel lees ons van ‘n sekere tyd wat aangebreek het of dat ‘n sekere tyd in vervulling gekom het. Dit voorveronderstel dat daar tyd verloop het voor hierdie bepaalde tyd. Prediker 3 noem herhaaldelik dat elke ding sy vaste tyd het. En nou is ons in die tyd voor Kersfees. Jörg Zink skryf in sy boek, “Die stem van die Son”, hoe belangrik dit is om ‘n bepaalde tyd “af te wag”. Hy sê dat mense feeste bederf deur dit nie meer af te wag en daarvoor voor te berei nie. Jy onthou seker nog hoe jy kleintyd in spanning Kersfees afgewag het. Hoe jy grootoog uitgesien het en die dae afgetel het. Hierdie spanning van afwagting is noodsaaklik. Dit berei jou hart en gees voor vir die vreugdevolle herdenking. John van den Berg beskryf dit so raak: hy sê dat vreugde ‘n toestand van die hart is, maar dat die hart daarop voorberei moet word, soos ‘n riet wat met ‘n mes uitgehol en gereedgemaak word om musiek voort te bring.
Elke ding het inderdaad sy vaste tyd – dit is nou die tyd om ons innerlik en uiterlik voor te berei vir hierdie vreugdefees. Berei jou innerlik voor deur meer tyd deur te bring met God se Woord en ander sinvolle leesstof, deur toegewyde gebed en die luister van geestelike opbouende musiek. Tasbare herinneringstekens (bv kranse, kerse , boeke, kunswerke en adventtonele) aan die komende fees kan met groot vrug in jou huis geplaas word om jou en jou huismense, asook vriende en besoekers in die stemming van die Kerstyd te bring. Want ons het immers rede om groot fees te vier oor ‘n kind wat meer as 2 000 jaar gelede gebore is en vir ons verlossing gebring het!
Gebed: Here, ek wil stil word in hierdie tyd. Ek wil op U wag. Ek wil my verwonder daaroor dat U ‘n tyd bepaal het om ewig in te gryp. Ek wil juig oor die vervulling van u kosbare tydsberekening! Amen