Christus die Lig - 22 November 2013
Riélle Heine
“Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Johannes 8:12
Die beeld van lig teenoor duisternis loop soos ‘n goue draad vanaf die skepping van die heelal. God spreek en daar was lig en Hy skei die lig van die donker. En sedertdien staan die twee altyd teenoor mekaar – altyd in kontras. Lig word dan ook gelyk gestel aan lewe, helderheid, duidelikheid, insig, kennis en begrip; terwyl donker sinoniem is met duisternis, ligloosheid, onsekerheid, vertwyfeling en neerslagtigheid.
Jesaja kondig aan dat die Lig oppad was na die wêreld: “Maar in die land waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie” [Jes 8:23]. In die Evangelie van Johannes lees ons: “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie” [Johannes 1:4-5].
Jesus sê dit dan ook self vir die mense: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” [Johannes 8:12]. En dan gee Christus aan sy kinders opdrag om verder deel te hê daaraan om die duisternis in die wêreld te help verdryf.
“Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig” [Efesiërs 5:8].
“Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig” [1 Petrus 2:9].
In hierdie tyd en dag waarin jy jou bevind, is jy gekies om soos ‘n kers lig in ‘n donker vertrek te bring; is jy gekies om die donkerte te help verdryf. Jy het die opdrag om lewe, sekerheid, liefde en hoop te bring.
Gebed: Here, God van Lig en Lewe, ek wil u hoop en lewe en lig uitdra in die wêreld! Ek wil getrou wees aan u opdrag. Amen