Christus die Goeie Herder - 21 November 2013
Riélle Heine
“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My." Johannes 10:11&14
Reeds in die Ou Testament kom die beeld van die herder met sy skape baie voor. Seker omdat dit ‘n leefwêreld was wat so bekend was aan die mense die tyd, kon dit so duidelik tot hulle spreek. Jesaja bevestig die Here se sorg aan sy volk deur vir hulle te sê: “Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie” [Jesaja 40:11].
Die Groot Afrikaanse Sinoniemwoordeboek gee saam met die woord sorg en versorg ook woorde soos bemoeienis, bewaak, omsien, oppas, sôre, toesien en voorsien. Ons word deur God versorg; Hy is besorg oor ons; Hy maak seker dat ons nie onder sy oë uitbeweeg nie; Hy aanvaar verantwoordelikheid vir ons.
Wat ‘n ontsaglike gedagte: dat daar Iemand is wat bereid is om verantwoordelikheid vir my te aanvaar! In hierdie tyd waar ons genoodsaak is om altyd in beheer te wees en selfstandig te moet optree, is Iemand sowaar bereid om verantwoordelikheid vir my te aanvaar. Hierdie gedagte maak dat ek voel asof ek diep kan asemhaal en kan oorgee.
Ook in die bekendste van alle Psalms skryf die Psalmdigter: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my in groen weivelde rus, Hy bring my by waters waar daar vrede is” [Psalm 23:1-2]. Uit hierdie Psalm blyk dit verder dat hierdie Herder nie net versorg nie, maar my met oorvloed oorlaai en my veilig hou.
En dan voltooi Christus hierdie beeld in die Nuwe Testament as Hy ook teenoor sy dissipels bevestig dat Hy die goeie herder is en dat Hy hulle ken … en dan boonop - dat Hy sy lewe vir sy skape aflê!
En dit is wat die Goeie Herder werklik vir ons gedoen het!
Gebed: Here, dankie dat U my ken. Dat ek vir U as Herder het, is die grootste genade denkbaar! Ek wil naby aan U bly, u stem elke dag hoor en U volg. Amen