Christus die Wingerdstok - 20 November 2013
Riélle Heine
Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. Johannes 15:1,4-5
Een van die duidelikste herinnerings uit my kinders se kleintyd is my oudste dogter – daardie tyd net ouer as drie – wat oor haar babasussie buk terwyl ek besig is om die te versorg. En dan, nadat sy haar beeld vir die eerste keer in haar sussie te oë sien, met verbasing na my opkyk en sê: Kyk, Mamma, ek is in haar oë! Nou kan ek nie doodgaan nie!
Sedertdien kon ek aan geen helderder beeld as hierdie dink om my aan te spoor om naby Christus te leef nie. So naby dat ek as’t ware my beeld in sy oë kan sien; so naby dat ek my onsterflikheid kan waarneem.
Hierdie beeld is vir my sinoniem aan die gelowige wat soos ’n loot deel is van die ware wingerdstok, naamlik Christus. Ons moet onlosmaaklik naby aan Christus bly. Sonder Hom kan ons nie bestaan nie. [vers 6: “As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog.”] As ons nie naby aan Christus leef en in ‘n ware verhouding met Hom staan nie, kan ons geen vrug dra nie.
Christus hunker na ‘n lewende verhouding met elkeen van sy kinders. Hy wil elke dag naby aan ons wees.
Gebed: Dankie, Here, dat U vir ons deur duidelike beelde aanspoor om naby aan U te leef. Dankie vir u Lewende Woord wat ons elke dag versterk en voed. Amen.