Vers n dag - 30 Junie
Heiligheid is nie net vir heiliges nie
Hennie Symington
Om heilig te lewe (dit beteken om afgesonder te wees vir God), is vir God ʼn vreugde maar vir die goddeloses ʼn pyn. Om te doen wat God van ons verwag beteken dat jy jou aktief teen die kwaad verset. Dit is soms heel eenvoudig. Klein dade van liefde en geregtigheid kan ʼn verskil maak soos bv.
- om die waarheid te vertel in plaas van ʼn leuen.
- om mense met respek te behandel in plaas daarvan van om hulle sleg te sê.
- om na mense te luister in plaas daarvan om hulle te ignoreer.
- om eerder stil te bly oor iemand se foute, as om dit wyd en syd te verkondig (dis skinder).
- om ʼn sagte antwoord in plaas van ʼn afjak te gee.
- om die vreemdeling in jou poorte tuis te laat voel.
- om ʼn lewe van eenvoud in plaas van oordaad te leef.
- om jou ego ʼn blaaskans te gee ter wille van iemand anders.
- om jou negatiewe opmerkings oor mense wat anders is, in jou sak te steek.
- om teen die stroomin  standpunt te neem teen onreg.
Lysie van sondes nimmereindigend
Natuurlik gaan die Christelike geloof nie oor ʼn lysie moets en moenies wat ʼn mens soggens en saans kan afmerk en sê,  ek was vandag 80% in die kol,  of het vandag nie die paal gehaal nie, want selfs ons suiwerste motiewe of voornemens word gepotjie deur ons eie sondigheid. En dis presies waarom God sy Seun gestuur het. Om vir ons in te staan waar ons te kort skiet.
Gebed vir vandag
Here, U het my uitgekies om U te volg. Help my Here om my keuse te maak in navolging van U.
Vers ʼn dag
14 As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. 15 Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. 16 Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.†1 Pet. 1:13;14-16
Ns. Baie dankie vir al u wonderlike terugvoer, voorstelle en dit wat julle met my gedeel het. Ek waardeer dit. Ek groet tot ʼn volgende keer. Hennie