Wie is God? - 13 November 2013
Riélle Heine
“God is groot, ons kan sy grootheid nie begryp .” Job 36:26
Die Bybel beskryf, vanaf die eerste hoofstuk tot aan die einde, God se almag. God se grootheid as Skepper, Onderhouer, Heerser, Wysgeer, Geneesheer, Redder en Leier word deur soveel skrywers en digters bespreek en besing en steeds voel dit asof woorde ontbreek om sy Wese weer te gee.
Die slim-slim menslike brein wat mense op die maan laat loop, vliegtuie van 650 ton in die lug kan hou en atome kan laat split, staan stom voor God se grootheid. Biblioteke gevul met eeue se geskrifte, beelde en kunswerke probeer gestand doen aan die glorie van God, maar slaag maar telkens daarin om net sekere eienskappe van God dof te belig.
Aarstbiskop Anselmus van Kantelberg het gesê dat God daardie wese is met wie absoluut niks of niemand naastenby vergelyk kan word nie.
Isak de Villiers skryf:
Sal ek U ooit kan ken?
Sal ek U ooit kan dínk-ken?
ráák-ken?
vóél-ken?
Of U oor en oor kan vergelyk
met iets wat anders is,
wat min of meer soos U is,
wat ek kan verstaan?
Niks is soos U nie.
Hierdie wonderlike God is my Skepper en my Redder. Sal ek nie meermale net stilbly en stilraak om in verwondering God te aanbid nie!?
Gebed: Almagtige, groot en onbegryplike God. U is wonderlik. Ek aanbid en bewonder U in hierdie oggend. Daar is niemand soos U nie. Ek wil net in hierdie oomblikke stil word en van u teenwoordigheid bewus word. Aan U kom al die lof toe – in die hemel en op die aarde! Amen.