Wie is God [ii] - 14 November 2013
Riélle Heine
Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ‘n vlam binne-in ‘n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. Eksodus 3:2
God is die Een wat deur die eeue heen Homself aan die mens openbaar of bekendstel. Die sondeval het gemaak dat die skepsel sy natuurlike behoefte om sy Skepper te soek, verloor het. Die sondeval het selfs veroorsaak dat die mens nie meer ingestel is om altyd God se stem duidelik te herken nie.
Daar is baie voorbeelde:
Uit die brandende doringbos roep God na Moses en stel Homself bekend. “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob” [Eksodus 3:6].
In Konings 19:12-13 lees ons: Ná die vuur was daar ‘n fluistering in die windstilte … Tóé hoor hy ‘n stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?”
Op pad om die Christene in Damaskus te vervolg, laat God ‘n helder lig op Saulus val en praat Hy met hom: “Ek is Jesus. Dit is My wat jy vervolg” [Handelinge 9:5].
God is die Een wat Homself steeds elke dag aan sy kinders openbaar. Soms op dramatiese wyse met groot impak op jou lewe. Ander tye deur die klein en alledaagse.
Hoor ek en jy Hom? Herken ons sy stem?
Gebed: Here – dat U, die Almagtige God, Homself elke dag aan my openbaar, is onbegryplik! En ek is daagliks so aan die gang, dat ek baie keer doof is vir u stem. Dankie dat U, Skeppergod, steeds u skepsels liefhet! Amen