Elke ding het sy vaste tyd [ii] - 12 November 2013
Riélle Heine
Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd. ‘n Tyd om te huil, ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te treur, ‘n tyd om van blydskap te dans. Prediker 3:1,4
Almal van ons sou heel graag net die sonskynkant van die lewe wou ervaar. Ons kyk partykeer na ander mense en dink: die lewe is een groot fees vir daardie persoon! Maar as ons toegelaat word om daardie mens se lewe van nader te beskou, sien ons dat ons nie die volle prentjie het nie.
Andries Cilliers skryf: “Dit is hoe die wêreld lyk: ‘n wisselspel tussen wat wonderlik en wat verskriklik is. Die lewe is geboorte én dood, bymekaarmaak én verloor, liefde én haat, oorlog én vrede. Dit beteken dat mense wat net die lekker in die lewe wil hê, hulleself bluf.”
Nadat Job alles verloor het en pynlike swere oor sy hele lyf uitslaan, sê hy vir sy vrou: As ons dan die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?
Net jy weet in watter tyd jy jou nou bevind. Dalk besef jy vanoggend met bestek-opname dat jy jou in ‘n tyd van veel vreugde bevind; dat jy volop rede het om te lag en bly te wees! Of dalk is die teendeel waar: dalk voel jy in hierdie tyd dat daar niks is om oor bly te wees nie en dat die moedeloosheid dreig om jou te oorval.
Die God van Prediker en die God van Job beheer steeds die tyd. God is in beheer van ons tye. Dis met hierdie wete dat Paulus vir die Filippense skryf: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking in danksegging aan God bekend” [Filippense 4:4&6]. Of jy ‘n tyd van vreugde of hartseer beleef, jy kan vanoggend weet dat God ook jou tye in sy hand hou.
Gebed: Baie dankie, Here, dat U van my weet, meer nog – dat U my ken en liefhet en my tye bepaal. Ek loof U omdat U in beheer van my lewe is. Amen.