Vers n dag - 24 Junie
Geloof in die rus van eeue gesus?
Hennie Symington
Ten spyte van sommige geloofstrome wat graag verkondig dat dat geloof uit drie of vier maklike stappies en ʼn  “al-wat-jy-hoef-te-doen-is†bestaan, is geloof nie heeltemal so eenvoudig nie. As dit so eenvoudig was, sou daar nie deur die eeue heen talle biblioteke vol teologiese boeke, films, verhandelings en artikels  oor geloof, bestaan het nie.
Geloof is nie ’n pasklaar resep vir ʼn gelukkige lewe nie. Dis nie ʼn roetekaart vol padpredikante wat vir jou die rigting en afstand na jou bestemming presies aandui nie. Dis nie ʼn  leuenverklikker wat vir jou die waarheid en die leuen duidelik uitklaar nie. Dis slegte nuus vir ons wat hou van definitiewe antwoorde waaroor ons nie te veel hoef na te dink nie.
Die gelowige moet juis gladde antwoorde, slim slagspreuke en woorde wat sekere knoppies in ons binneste druk ondraaglik vind. Hy moet ʼn  absolute teësin hê in sedelessies wat hy uit sy kop kan leer. Hy moet self wil nadink en vrae stel. Hy mag nie rustig agtertoe lê en aan die slaap gesus word deur gister se antwoorde op vandag se vraagstukke nie.
Om eg te glo is ʼn worsteling wat beide ons emosies en ons verstand betrek. Die Bybel is vol wonderlike karakters wat met hulle geloof geworstel het – en dis juis hulle wat so na aan God se hart lê. Die hartseer is dat ons lui geraak het om dit te doen. As ons daarmee kan wegkom om nie te dink nie is ons al te bly.
Soms is ons geloof vir ons so alledaags soos  ʼn koppie tee. Iemand wat so met sy Skepper en die geloof, wat hy as lewensveranderend beskou omgaan, het dalk sy eerste liefde verloor. Want met die geloof gaan dit soos met die liefde: dit oorval jou. Maar om enduit daardie liefde te behou behels ʼn soeke na woorde, die steiltes uitklim en om te belê in ʼn ewige woning.
Gebed vir vandag
Here, maak my gedurig bewus van geloof as ʼn misterie wat nie sommer so ontrafel kan word nie, maar tog aan my as mens onthul kan word omdat U ons liefhet en verstaan.
Vers ʼn dag
Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog ‘ kind. Vaste kos is vir grootmense, vir mens wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.  Hebreërs 5:13-14