Vers n dag - 22 Junie
Sien jý kans om te glo?
Hennie Symington
Nikodemus was ʼn jongman wat een nag in die donker na Jesus toe gekom het om iets met hom te bespreek. As ʼn lid van die elite-groep, die fariseers kon hy nie saam met Jeus gesien word nie.
Hoekom wou hy met Jesus praat? Dalk, het hy gedink, Jesus is die een wat gekom het om vernuwing in die kerk van die tyd te bring. Dalk het Jesus iets in sy siel wakker gemaak. Dalk kom Nikodemus na hom te vir ʼn paar “tips†oor hoe om ʼn beter student te wees, of ʼn beter leermeester.
Nikodemus soos baie van ons is ʼn ernstige soeker na iets – iets meer, iets beters, iets buitengewoon waaraan hy sy geloof, wat moontlik vir hom kragteloos en vervelig geword het, kon hang.
Dan tref Jesus se antwoord hom soos ʼn emmer koue water in die gesig. Hy, die kenner van die wet en die Skrif word gekonfronteer met ʼn absurde antwoord soos: Jy moet weer gebore word.
Hoe kan hy teruggaan op sy pad, hy ʼn toegewyde fariseer wat sy hele lewe gebou het om sy noulettende gehoorsaamheid aan die wet. Wat van sy geleerdheid? Belaglik!
Die misterie van geloof
Miskien was dit glad nie so ʼn goeie idee om met Jesus te kom praat nie. Omdat hy nie kans gesien om alles prys te gee nie, kies hy om Jesus se woorde letterlik op te neem. Hy kyk verby die misterie van geloof na die alledaagse aardse bestaan.
Eintlik wou Nikodemus nie verander nie. Hy wou voortgaan op sy gebaande weg vol akademiese prestasie, rykdom en aansien. Terwyl  Jesus wou hê dat hy die diepte, die hoogte en die wydte van God se genade moet leer ken. Om te glo is die ingrypendste gebeurtenis van ‘n mens se lewe maar Nikodemus het nie kans gesien daarvoor nie.
Nikodemus bly in ons gedagtes spook want Hy verlaat Jesus met dieselfde donkerte in sy siel as die nag waarin hy verdwyn. Sê dit dalk iets van my?
Gebed vir vandag
Here, om U te volg vra iets – nee, alles van my. Maak my hart oop vir wat u vra.
Vers ʼn dag
“Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse dinge vertel?â€Â Johannes 3:12