Vers n dag - 21 Junie
Die Gees bied eerstehulp vir die siel
Hennie Symington
Die Heilige Gees werk soos ʼn eerstehulpspan vir mense wat seergekry het en ernstige pyn en lyding beleef. Hy waak oor die wat slagoffers is van omstandighede buite hulle beheer is: die wat ly onder ʼn korrupte stelsel of regerings, die wat ly ter wille van hulle geloof, die wat daagliks blootgestel word aan diskriminasie, die wat aan die kortste ent trek in die ekonomiese stelsel, die wat verslaaf is aan alkohol of dwelms, die wat elke dag vir hulle lewens vrees, die wat daagliks belas word met depressie en geestessiektes, die wat uitgebuit en verkrag word ... Die lys van lyding is eindeloos.
In Jesus se eie bediening het liggaamlike herstel altyd gepaardgegaan met innerlike heling. God is gemoeid met die hele persoon nie net die liggaamlike nie. Die Gees werk ins ons om ons gebroke lewens heel te maak selfs te midde van geestelike en liggaamlike pyn en lyding.
God se visie word jou visie
Die Gees maak dit vir ons moontlik om deel te neem aan God se werk op aarde want Hy maak dit persoonlik. Omdat die Gees in my werk, het ek die vryheid om die Goeie Nuus te verkondig. Die Koninkryk word my persoonlike visie vir die lewe. God se hoop vir almal word my hoop vir almal. God se smart oor mense se omstandighede word myne ook. Op die manier gee die Heilige Gees vlerke aan die die menslike gees
Gebed vir vandag
Here, U Gees bemagtig my gees om die goeie nuus sigbaar vir ander te maak. Versterk my en lei my om u Koninkryk op aarde te verkondig.
Vers ʼn dag
...en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid. Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is 2 Kor. 3:16-18.