Vers n dag - 18 Junie
Die Heilige  Gees aan die werk(1)
Hennie Symington
Die Heilige Gees is God by ons. Hy is Wysheid en was reeds teenwoordig van die grondlegging van die wêreld af (Gen. 1:2). Hy werk wanneer ons nie eens daarvan bewus is nie.
Die Gees getuig van wat Christus en lei ons in die teenwoordigheid van Christus om ons bewus te maak van wat God in gedagte het vir ons.
Hy lei ons op verskillende maniere.
- Die Heilige Gees werk hoofsaaklik vanuit die Woord Hoe meer jy jou in die Bybel verdiep, hoe meer raak jy bewus van die Heilige Gees se werking in jou. Sonder die werk van die Gees sou die Bybels slegs dooie ink op papier gewees het.
- Hy werk deur omstandighede, (Hand. 16:10) wat vir ons nuwe geleenthede skep en ander hoofstukke in ons lewens toe te maak.
- Hy werk deur ander gelowiges om vir ons nuwe insigte te bring. (Pasop, mense kan jou ook mislei) (Hand. 10)
- Hy lei ons deur gebed. Die Heilige gee aan ons ʼn innerlike vrede wanneer ons oor sekere  besluite bid. Hierdie vrede is nie noodwendig intellektuele sekerheid nie, maar ʼn vertroue waarmee jy kan leef.
- Hy lei ons op ʼn verskeidenheid van maniere. Soms werk Hy deur ʼn preek, ʼn lied of ʼn getuienis of selfs ʼn goeie daad, ʼn verhouding met iemand, of ʼn stryd in die gemoed, deur die aanraking van die dood ʼn, bergtopervaring of ʼn fluisterstemmetjie in jou hart.
Wees gewaarsku
Die Heilige Gees word nie deur jou gehiet en gebied nie. Hy werk alleen in opdrag van die Vader. Hy verskyn nie met die klik van ʼn muis op jou skerm wanneer jy ʼn behoefte het aan hom nie. Hy waai waar hy wil en doen sy werk in goddelike wysheid en kennis.
Gebed vir vandag
Dankie Gees van God wat my met sy onsigbare teenwoordigheid lei om God sigbaar in my lewe te maak.
Vers ʼn dag
Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. Gen.1:2
Toe hulle op 'n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.†So is Barnabas en Saulus deur die Heilige Gees uitgestuur. Hand. 13:2
Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.Joh 3:8