Vers n dag - 17 Junie
Te veel woorde
Hennie Symington
Woorde is wonderwerke. Dit maak van ons mense met goddelike vermoëens wat stringe woorde tot gedagtes kan vorm. Woorde is soos riviere wat in alle rigtings oor berge en dale vloei, en soms oorloop van betekenis. Woorde is soos vuurhoutjies wat vure kan aansteek wat moeilik geblus word. Woorde is soos asem op die wind wat waai waar dit wil. Woorde streel, woorde sny. Woorde maak seer. Maar as jy jou woorde goed kies, kan jy ook iemand se siel aanraak.
As ons so los en vas met woorde omgaan, dink ons ooit daaraan dat die woord so magtig is dat God die heelal tot stand gebring het bloot deur te praat? In Genesis 1:3 lees ons: Toe het God gesê: “Laat daar lig wees.†En daar was lig. God het nie net gepraat nie, Hy het ook dit wat Hy geskep het benoem. Daardie vermoë het Hy ook aan die mens gegee met die opdrag om aan alles in die paradys 'n naam te gee.
In Johannes 1 lees ons dat die wonder van die Woord van meet af daar was. En dat die Woord self God was. Sonder die Woord kan ons nie mens wees nie. Sonder Woord kan ons god nie ken of herken nie. God het dit beskik. Taal maak van ons goddelike wesens wat nie net kan begryp dat daar 'n God is nie, maar ook dat ons met Hom kan praat.
Voor jy dus weer ydel woorde spreek, tel jou woorde. Wees bewus daarvan dat jy ook met jou woorde kan skep – Jy kan goed of kwaad tot stand bring. Praat jy asof met God en sy skepping of praat jy maar sommer net omdat praat praat is, ongeag die gevolge van jou woorde.
Gebed vir vandag
Here, help my om my woorde te tel sodat ek rekenskap kan gee daarvan.