Vers n dag - 15 Junie
Onder die besembos
Hennie Symington
Op een of ander stadium in die meeste van ons se lewens voel jy soos Elija onder die besembos. Niks is meer vir jou lekker nie en niks maak vir jou sin nie. En soms besef jy dat jy professionele hulp nodig het. So veel te meer in die tye waarin ons leef. Dit hoef nie noodwendig vir iets groot soos depressie te wees nie, maar dalk angs oor een of ander ding (soos ʼn inbraak of stresvolle gebeurtenis ) wat besig is om jou lewensvreugde uit jou uit te pers.
Hoe weet jy jy het het hulp nodig?
Vra jouself die volgende paar vrae:
- Was jy voorheen 'n redelik ontspanne mens wat nou skielik in Antjie Somers verander het. Of andersom – was jy eers vreeslik gedrewe en nou speel jy heeldag Solitaire op die rekenaar of lê en kyk televisie? ’n Gedrags- of persoonlikheidsverandering is 'n goeie aanduiding dat daar iets fout is.
- Huil jy sonder rede? Is alles net te veel vir jou? Besluite soos wat om aan te trek word 'n bestaanskrisis. Of jy is so gespanne wanneer jy op die snelweg moet ry, dat jy 'n 45 minute-draai ry om dit te vermy?
- Is genot en plesier die laaste item op jou agenda? Jy het rêrig nie krag daarvoor nie. Jou slaaploosheid bereik nuwe hoogtes of jy skrik kort-kort in die nag wakker om jou te bekommer.
- Begin jy dink aan moontlike maniere om selfmoord te pleeg sonder om dit te opvallend laat lyk?
- Stel mense wat na aan jou is kort-kort voor dat jy iemand moet gaan sien om hulp te kry? Jy ignoreer hierdie raad op eie risiko.
As jy uiteindelik besef dat jy hulp nodig het, gaan sien jou jou dominee of dokter vir 'n verwysing. Jy kan ook 'n ondersteuningsgroep vir depressie en angstigheid skakel. Waarskuwing: Jou beste vriend/in of jou eggenoot of selfs jou baas, is nie jou sielkundige nie.Kry professionele hulp.
Gebed vir vandag
Here, ek kom nie meer die mas op nie. Gee my insig en krag om hulp te kry.
Vers 'n dag
U, Here, laat my lamp helder skyn. My God gee lig as dit donker is om my. Ps. 18:29