Geloof en liefde - 16 Oktober 2013
Nina Smit
Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.
~ 1 Korintiërs 13:2
As jy glo, is alle dinge vir jou moontlik, selfs om berge te versit, leer Jesus sy dissipels (Matteus 21:21). Om in God te glo, beteken dat jy nou reeds seker kan wees van die dinge waarop jy hoop, dié dinge wat jy nou nog nie kan sien nie. Sonder liefde kan geloof egter nie tot sy reg kom nie. “En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!” skryf Paulus in 1 Korintiërs 13:13. Dit is jou liefde vir ander wat dimensie en karakter aan jou geloof gee.
Liefde, anders as geloof, duur vir altyd. Eendag, in God se nuwe wêreld sal geloof nie meer nodig wees nie omdat al die dinge waarin jy geglo het dan werklikheid sal word. Maar liefde sal altyd daar wees. Dit sal ’n nuwe dieptedimensie bereik wanneer jy vir God in al sy heerlikheid sal sien; wanneer jy Hom ten volle sal ken en liefhê soos Hy behoort liefgehê te word.
Onderstreep jou geloof met jou liefde vir ander. Vra dat die Here vir jou sal wys op watter terreine jy jou geloof kan uitleef deur liefde aan ander mense te bewys. Raak betrokke by jou gemeente se barmhartigheidsdiens en help die mense wat minder as jyself het. Dit sal jou geloof versterk en laat groei.
Here, wys my hoe en waar ek my geloof met my liefde vir ander kan aanvul, sodat dit al hoe sterker sal word. Amen