Geloof gister, vandag en môre - 15 Oktober 2013
Nina Smit
Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig tot op die dag wanneer Christus Jesus kom.
~ Filippense 1:6
Paulus skryf aan die gelowiges in Filippi dat God, wat sy goeie werk in hulle begin het toe hulle gelowig geword het, dit hulle lewe lank sal voortsit en dit sal voltooi op daardie dag wanneer Jesus weer sal kom. Geloof in God sluit nie net die verlede en toekoms in nie, maar omvat ook vandag. Wanneer dit baie sleg met die psalmdigters gegaan het, dink hulle eenvoudig terug aan hoe God hulle in die verlede gehelp het, en dan skep hulle weer moed en glo hulle dat Hy dit ook in die toekoms sal doen.
Geloof verseker jou dat God jou dag vir dag sal dra. Dat Hy die goeie werk wat in jou begin is toe jy tot bekering gekom het, sal voltooi op die dag van Jesus se wederkoms. Dit verseker jou dat God gister en eergister daar was toe jy krisisse beleef het, dat Hy daar sal wees as jy Hom vandág nodig het en dat Hy ook in die toekoms sal voorsien. Geloof is die seker wete dat alles uiteindelik tot jou beswil sal uitwerk. “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is,” getuig Paulus in Romeine 8:28.
As jy in Jesus glo, mag jy daardie beloftes toe-eien.
Here Jesus, dankie dat ek in U mag glo; dankie dat U daar was vir my toe ek U in die verlede nodig gehad het, dat U my steeds dag vir dag dra en dat ek ook in die toekoms vas op U kan vertrou. Amen