Geloof en gebed - 17 Oktober 2013
Nina Smit
’n Mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag word. So ’n mens moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.
~ Jakobus 1:6-8
Geloof is ’n voorwaarde van gebedsverhoring, skryf Jakobus. My man sê graag dat geloof en gebed die twee bene is waarop ’n Christen staan. Met net een been kom ’n mens nie ver nie, maar met albei kan ons met gemak beweeg net waar ons wil. Dit werk ook nie om nét te bid wanneer jy iets van God wil hê nie. Dit is net gehoorsame kinders van God wat in ’n innige verhouding met Hom staan en vas in Hom glo, wie se gebede Hy verhoor.
Wanneer jy gelowig bid, kry jy dié dinge wat jy van God vra, beloof Jesus in Markus 11:24: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”
Ons weet egter goed dat ons nié altyd alles kry wat ons van God vra nie, ook al glo ons vas dat ons dit sal kry. God gee jou nie altyd presies wat jy vra nie, omdat Hy presies weet wat vir jou die beste sal wees. As jou (gelowige) gebede dus nie beantwoord word nie, is dit omdat God nooit vir jou iets sal gee wat nie vir jou goed is nie. Vertrou Hom om elke keer die beste besluit te neem en bid áltyd dat sy wil sal geskied.
Vader, leer my om gelowig te bid, en te aanvaar dat U altyd weet wat die beste vir my is wanneer my gebede nie beantwoord word nie. Amen