Soek na God - 22 Oktober 2013
Nina Smit
Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ’n dor en droë land. Ek wil by U in die heiligdom wees om daar u mag en grootheid te ondervind. Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my. ~ Psalm 63:2-3, 9
Dawid skryf Psalm 63 wanneer hy alleen in die woestyn is. In hierdie psalm smag die digter na die teenwoordigheid van die Here. Hy wil naby Hom wees en verlang na sy ondersteuning. Hy dink aan God “op sy bed” en peins oor Hom in die nag (vers 7). Wanneer hy so in God se teenwoordigheid verkeer, is daar ’n paar dinge wat vir hom duidelik word: God is vir hom ’n hulp. Hy beskerm hom onder sy vlerke. Hy wil altyd naby God bly, sy hand ondersteun hom en sy troue liefde is vir hom meer werd as die lewe self. Daarom wil hy God loof en prys.
God laat Hom altyd vind deur dié mense wat na Hom soek. As jy graag nader aan God wil kom, maak tyd om oor Hom te dink, om met Hom te praat en sy Woord te lees. Sodra jy tyd vir God opsy sit, ontdek jy dat God altyd daar is vir jou, dat Hy jou sal help en beskerm, dat Hy jou ondersteun in alles wat jy doen en kom jy onder die indruk van sy almag en grootheid. Dan sal jy ook soos die psalmdigter jóú hande na God wil uitsteek om Hom te loof!
Here God, ek verlang na u teenwoordigheid in my lewe; ek wil naby U bly en aan U dink. Ek loof U dat U altyd beskikbaar is vir my om my te help en te beskerm. Amen