God gee moed - 21 Oktober 2013
Nina Smit
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig. ~ 2 Korintiërs 1:3-4
Paulus begin 2 Korintiërs met ’n lofprysing aan God. Hierna gee hy die redes waarom gelowiges God behoort te prys. Alhoewel dit op die oomblik glad nie goed met die mense van Korinte gaan nie, verseker Paulus hulle dat God weer vir hulle uitkoms sal gee en hulle in elke moeilikheid sal bystaan. En wanneer Hy dit gedoen het, behoort hulle op hulle beurt weer ánder Christene wat swaarkry te bemoedig en te help.
Baie mense leef vandag ’n gefragmenteerde lewe. Ons predikant vertel tydens ’n erediens van ’n lidmaat wat vir hom gesê het dat haar lewe soos ’n legkaart met te veel stukke is. Dit is onmoontlik om almal ingepas te kry. Geen wonder dat baie mense op moedverloor se vlakte sit nie. Maar as jy aan God behoort, kan jy Hom loof omdat jy weet (en in die verlede boonop al telkens ervaar het) dat Hy vir jou in élke omstandigheid uitkoms sal gee en in elke moeilikheid sal help. Omdat Hy dit vir jou doen, verwag Hy van jou om jou mede-Christene wat swaarkry te bemoedig net soos God vir jou gedoen het.
Hemelse Vader, ek wil U saam met Paulus loof omdat U vir my moed gee en uitkoms bewerk wanneer dit swaar gaan. Help my om ander mense moed in te praat en by te staan. Amen