Kry vir jou ’n binnekamer - 23 Oktober 2013
Nina Smit
Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.
~ Matteus 6:6, 1953-vertaling
Wanneer Jesus se dissipels Hom vra om hulle te leer bid, sê Hy dat hulle God in privaatheid moet opsoek en alleen tot Hom moet bid.
Vir jou stiltetyd het jy afsondering en stilte nodig, en ook ’n spesiale plek waar jy alleen kan wees sodat daar niks en niemand is wat jou aandag sal aftrek nie. In jou binnekamer, wanneer alle ander dinge agterweë gelaat word, behoort jy net op God te fokus. Sit gerus jou telefoon en selfoon af en vra jou gesinslede om jou nie te hinder terwyl jy met jou stiltetyd besig is nie. Voor jy begin bid of Bybel lees, raak eers ’n rukkie stil en dink na oor God, oor Wie Hy is en wat Hy vir jou doen.
Die kerkvader Andrew Murray wat talle boeke oor gebed en heiligmaking geskryf het, het die geheim van ’n alleenplek met God geken. “As jy jou binnekamer betree, begin heel eerste om vir God te dank vir sy onuitspreeklike liefde wat jou nooi om na Hom te kom en vrylik met Hom te verkeer. Dank die Here vir die versekering wat jy het dat Hy jou wil seën. Loof en prys die drie-enige God vir sy heilige teenwoordigheid,” skryf hy in Die groot boek van Christelike aanhalings volume 2 (p 55).
Hemelse Vader, dankie dat ek die innige vreugde van samesyn met U in my binnekamer daagliks kan beleef. Dat ek daar kan ervaar hoe U vir my krag gee en my toerus vir my besige dag. Amen