Hoor God se stem - 24 Oktober 2013
Nina Smit
Die Here het Samuel toe ’n derde keer geroep, en hy het opgestaan en na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.” Toe besef Eli dat die Here die seun geroep het, en Eli sê vir Samuel: “Gaan lê en as iemand jou weer roep, sê jy: Praat, Here, u dienaar luister!” ~ 1 Samuel 3:8-9
Eers toe God vir Samuel die derde keer roep, het Eli besef dat dit al die tyd die Here was wat met Samuel gepraat het. “’n Mens se ore is nog beter ‘hemel-kanale’ as jou oë,” skryf Joubert in Finesse (April 2012). “Jesus praat non-stop in hemelse woorde met jou. As jy nie sy stem duidelik hoor nie, is dit omdat jy te besig is. Die geraas van jou alledaagse lewe doof sy stem uit. Jesus se woorde is bedoel om jou lewe vol hemelse vreugde te maak. Om op sy vreugdesender ingestel te wees, is om die regte GPS te hê vir ’n lewe wat Hom in die alledaagse detail ken. Om Jesus reg te ‘hoor’ moet jou lewe 24/7 op die regte frekwensie ingeskakel wees. Jou daaglike stiltetyd is nie genoeg nie.”
Wanneer jy by God stil raak, behoort daardie lesse wat jy in jou stiltetyd leer, oor te loop na jou lewe self.
Praat die hele dag lank met God terwyl jy met jou dagtake besig is en doen die dinge wat Hy van jou vra. Kies om Hom bewustelik lief te hê en te gehoorsaam in alles wat jy dink, doen en sê.
Here, help my om u stem klokhelder met my te hoor praat, om daglank met U in gesprek te bly en u riglyne in my lewe te gehoorsaam. Amen