Vers n dag - 2 Junie
10.   Sewe lewegewende deugde
Hennie Symington
Na ons toer deur die sewe dodelike sondes sluit ons aan by die oase van 7 lewegewende deugde. Wat ʼn wonderlike plek sou die wêreld nie gewees het as ons meer gelet het op sewe deugde as op sewe ondeugde nie. Dink net as negatiwiteit vervang kon word deur ʼn vreugde in die goeie.
Stel jou voor hoeveel beter die wêreld sou wees sonder jaloesie, gemeenheid en liefdeloosheid – ʼn plek waar mense in ander se vreugde deel, verskille onder mense respekteer en saam met ander ly.
Sonder woede sou daar ook nie haat, beskludiging en wraak gewees het nie. Mense sou eerder vergifnis, selfbeersing, moed en geduld aan die dag gelê het.
As daar nie luiheid was nie sou Gods water nie oor Gods akker geloop het wanneer dit gaan oor sorg vir jou medemens en die omgewing nie. Mense sou hande vat om die wêreld ʼn beter plek vir almal te maak.
Inhaligheid en die opgaar van aardse goedere sou iets van die verlede gewees het as vrygewigheid die plek daarvan kon inneem.
In ʼn wêreld waar vraatsug ʼn siekte geword het te midde van ʼn oorvloed van kos en drank is matigheid ʼn onderskatte deug.
Dink net as ongevoeligheid en wellus hokgeslaan kon word, hoeveel veiliger die wêreld vir almal wat bedreig word deur seksele uitbuiting sou wees. Om sensitief met mekaar om te gaan is tog ʼn teken van reinheid, nie net van jou liggaam nie maar ook van jou hart.
En as jy dit moeilik vind om so ʼn wêreld voor te stel, begin by jouself. Maak jou hoekie op hierdie wereld ʼn stukkie hemel op aarde deur elke dag ʼn bietjie af te sien van die toksiese leefstyle wat ons lei. Natuurlik met God se hulp.
Gebed vir vandag
God, gee my ʼn har vol liefde en verdraagsaamheid, sodat ek ʼn lewende advertensie vir die sewe – nee, sewentig maar sewe - deugde kan wees!
Vers ʼn dag
Verder,broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. Filip. 4:8