Vers n dag - 31 Mei
8. Wanneer wellus koning kraai
Hennie Symington
As enige een daarbuite glo dat seks ʼn privaataangeleentheid tussen twee mense wat mekaar liefhet is , het ek nuus vir jou. Seks het het ʼn multi-miljard-dollarbedryf geword waar mense nie net openlik daaroor praat en skryf nie maar dit sonder skroom beoefen in allerhande immorele en selfs onwettige bedyrwighede. Seksuele losbandigheid is vandag ʼn aanvaarde tydverdryf en kuisheid is ʼn grap!
Die internet het ʼn markplein vir allerhande smake geword. Met die druk van ʼn knoppie verskyn daar ʼn virtuele inkopiesentrum vir seks op die skerm. Daar is alles te kus en te keur sonder om jou te bekommer oor jou maat se voor- en afkeure (lees “hangupsâ€).
Daar is egter ʼn prys te betaal vir hierdie sug na fisieke en sensuele opwinding wat nie op jou kredietkaartstaat verskyn nie. ʼn Obsessie met seks gaan gewoonlik gepaard met geheimhouding, so die eerste ding wat sneuwel in so verhouding is openheid en vertroue.
As ouer is jy verantwoordelik vir die opvoeding van jou kinders. Jy is die een wat waardes en norme aan hulle moet oordra veral wat betref seksuele gedrag. Hoe leer jy hulle een ding terwyl jou gedrag lynreg daarteenoor staan. Skynheiligheid en valsheid word gevolglik die basis van jou opvoedingsmodel. Wees gewaarsku, hierdie tipe van gedrag kan erge skade aan jou kinders aanrig.
Ligte afleiding?
Baie mense beskou die tipe van seks as ligte afleiding of onskuldige pret en dis seker hulle goeie reg. Maar daar is iets pateties aan ʼn wêreld vol mense wat seks met liefde verwar het en wat nie kan onderskei tussen wellus en liefde nie. ʼn Karakter in een van Graham Green se romans som dit netjies op: “Ek weet alles van die tegniese sy van seks, maar weet absoluut niks van liefde nie.â€
Hoekom hieroor skryf? Uit die talle e-posse wat ons van lesers ontvang, blyk dit ʼn probleem te wees in talle verhoudings.
Gebed vir vandag
Here, ek wil graag bid vir elkeen wat hulp nodig het met ʼn verslawing aan pornografie en seks. Leer ons Heer, om op ons hoede te wees teen dit wat die vermoë het om ons te verslaaf.
Vers ʼn dag
Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe 1 Jhn. 2:16-17.