God in ons ........maak ons bekwaam 12 Junie 2013
deur Carina Francke
2 Kor 3:5: "Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, wat ons bekwaam gemaak het as dienaars van 'n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees..."
Iemand het eendag gesê dat jy nie iets kan weggee wat jy nie het nie. As jy dus presteer of goeie werk verrig, moenie geaffronteerd voel as mense nie die beuel blaas om jou roem te besing nie, want alles wat jy het, of wat jy doen, of bereik, is geskenke van die Here aan jou.(1Kor4:7). Jy moet die beuel vir Hom blaas uit dankbaarheid dat jy met Sy gawes kon werk en dien.
Paulus het hierdie waarheid verstaan. Hy erken dat hy niks, selfs nie sy geestelike werk kan doen sonder dat die Here hom bekwaam maak nie. Weet jy dat selfs Jesus hierdie besef gehad het? " ...die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie." (Joh 5:19). Paulus se begeerte is daarom om sy werk op so 'n manier te doen en sy lewe so te leef dat dit God se goedkeuring wegdra. Jou begeerte na erkenning vir jou suksesse moet eintlik van Hom kom en dan moet jy steeds lof aan Hom gee vir Sy betrokkenheid in jou lewe.
Die sekulêre wêreld meet ons sukses aan ons vermoë om dinge gedoen te kry. God aan die ander kant meet die gelowige se sukses aan die innerlike verandering wat plaasvind. Hierdie verandering het als te doen met 'n afhanklike en innige verhouding met Hom, asook die werking van die Heilige Gees in jou lewe en word sigbaar in jou nuwe manier van dink, hoe jy dinge aanpak, hoe jy leef en hoe jy met ander mense in verhouding staan.
As dit jou lewensfilosofie is, moet jy verstaan dat enige eerbare werk wat jy doen, in der waarheid geestelike werk is.
"Onmoontlik!" dink jy dalk. Nie as jy leef vanuit hierdie Skrifwaarheid nie: "Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, wat ons bekwaam gemaak het as dienaars van 'n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees..." 2 Kor 3:5
Gebed: Vader, ek probeer so dikwels om in my eie krag en vermoë dinge te vermag, maar dit bring nie bevrediging nie. Dalk is dit omdat ek wil hê mense moet my raaksien en beloon daarvoor. Ek weet egter dat slegs die bekwaamheid wat U aan my gee, dit vir my moontlik maak om werk te lewer wat ewigheidswaarde het en wat bevredig. Help my om U altyd as prioriteit in my lewe te onthou. Amen